Lees ook: ‘Senzo Meyiwa dood in huurmoord, nie roof nie’
PRETORIA. – Een van die beskuldigdes in die moord op Senzo Meyiwa het glo wapens en ammunisie aan huurmoordenaars verkoop.
Die hoofondersoeker in die Meyiwa-saak getuig steeds in die verhoor-in-‘n-verhoor en het gister gesê Bongani Ntanzi het vuurwapens aan huurmoordenaars verkoop.
Hy het ‘n stelling gelees wat deur Simphiwe Buthelezi gemaak is waarin Buthelezi Ntanzi beskuldig het dat hy vuurwapens aan huurmoordenaars verkoop. Buthelezi was vir ‘n ander saak in hegtenis geneem in KwaNongoma, KwaZulu-Natal. Hy is in 2022 oorlede.
Buthelezi het in sy stellings ook gesê Ntanzi het huurmoordenaars wat ‘n unielid in Marikana doodgemaak het van wapens voorsien. Hy het ook gesê hy het die polisie gewys waar Ntanzi bly toe hulle hom in hegtenis geneem het.
Die verhoor-in-‘n-verhoor is om te besluit of die skulderkennings van Ntanzi en Muzikawukhulelwa Sibiya in die moordsaak gebruik kan word. Hulle het beweer hulle is aangeval en gedwing om skuld te erken.
Die saak word vandag voortgesit.
Bronne: IOL, The Citizen, EWN