WES-KAAP. – Clive Boois (27), Marlon Booysen (25) en Anthony Storm (28) het Maandag in die Lambertsbaai-landdroshof verskyn in verband met die aanval op die boer, Hugo Louw. Hulle staan op aanklagte van poging tot moord en diefstal uit ‘n motorvoertuig tereg.
Eric Ntabazalila, NVG-woordvoeder, sê die staat beweer die beskuldigdes het Louw aangeval nadat hy hulle ’n saamrygeleentheid gegee het. Hy het glo vermoed dat hulle vee van sy plaas gesteel het voordat hy hulle opgelaai het. Die saak is vir verdere ondersoek tot 25 Mei uitgestel. Die beskuldigdes het hul reg prysgegee om vir borgtog aansoek te doen.
Agri Wes-Kaap het beswaar teen borg vir die beskuldigdes op rekord geplaas en het die hofsaak saam met die minister, Ivan Meyer, verteenwoordigers van Agri Wes-Kaap en omliggende landbouverenigings bygewoon. Volgens Agri Wes-Kaap raak ’n aanval op ’n boer nie net die slagoffer nie, maar het dit ’n impak op die breër landbougemeenskap. Die organisasie sê die voorval beklemtoon weer hoe belangrik samewerking tussen boere, plaaslike gemeenskappe en wetstoepassingsagentskappe is om veiligheid in landelike gebiede te versterk.





