BETHAL. – Die waterkrisis in Bethal het Vrydag ’n kritieke punt bereik toe die dorp en eMzinoni vanoggend amptelik by “punt nul” staan – daar is geen water meer beskikbaar om selfs watertrokke vol te maak nie.
Sekere dele van Bethal is reeds tussen 40 en 49 dae sonder lopende water. Die afgelope week is die hele dorp en omliggende gebiede egter totaal sonder watervoorsiening.
Met beperkte water in brandkrane is watertrokke die afgelope week nog gevul om inwoners te bedien, maar daardie bronne is nou uitgeput. Selfs die munisipale boorgat is tans leeg en neem lank om weer tot ’n bruikbare vlak te herstel.
Die situasie het ernstige gevolge vir inwoners:
- Kinders kan nie gebad word nie
- Wasgoed kan nie gewas word nie
- Toiletfasiliteite raak ’n daaglikse uitdaging
- JoJo-tenks is leeg
- Ouetehuise en skole sit sonder water
Bejaardes en inwoners sonder vervoer sukkel om by waterpunte uit te kom, vertel inwoners aan Nuusflits. Intussen kos water by plaaslike watersuiweringswinkels tussen R5.80 en R7 per liter – ’n koste wat vir baie huishoudings onvolhoubaar geword het. Vir talle gesinne het dit ’n stryd geword om net genoeg drinkwater te bekom.
Luidens inwoners het AfriForum se Hennie Bekker op twee punte by kerke watertenks laat oprig wat deur plaaslike boere om die beurt vol gemaak word. Die aanvraag oorskry egter die beskikbare voorraad en hulp kan nie voorbly by die behoefte nie. Boere probeer ook elders tenks volmaak, maar die omvang van die krisis maak dit ’n reuse taak.
Volgens inwoners skuld die Govan Mbeki Munisipaliteit miljoene rand aan Rand Water. Rand Water het glo bevestig dat water wel na die gebied gepomp word. Intussen bly amptelike antwoorde van die munisipaliteit oor die huidige situasie uit.
Terwyl ander stedelike waterkrisisse landswye aandag geniet, beleef Bethal tans ’n volskaalse humanitêre noodtoestand.
Nuusflits het navrae aan die Govan Mbeki Munisipaliteit gerig en wag op kommentaar.





