GAUTENG. – Akademiese bedrywighede by die Universiteit van Johannesburg (UJ) se Auckland Park Kingsway-kampus (APK) is hervat nadat ontwrigtings vroeër vandag, Maandag 26 Oktober, aangespreek en opgelos is.
Nuusflits het verskeie video-opnames ontvang van die beweerde ontwrigting wat op die kampus en klaskamers gebeur. Volgens ‘n bron het een van die studente glo gesê: “Ek het vriende wat vandag eksamen geskryf het. Blykbaar het hulle die eksamenlokale binnegestorm, die vraestelle begin afneem en selfs die toesighouers aangerand. Dit het glo vandag by elke eksamenlokaal gebeur. Studente se vraestelle is afgevat, en sommige studente en toesighouers is aangerand. Die EFF-studente gaan voort met die stakings. Hulle het verskeie dinge op die kampus beskadig en staan glo met grawe en soortgelyke voorwerpe buite die biblioteek.”
Volgens UJ is studente, personeel en die breër gemeenskap verseker dat normale universiteitsbedrywighede, insluitend klasse en eksamens, hervat is.