GAUTENG. – Die Valke het bewerings ontken dat lt.genl. Puleng Dimpane, die waarnemende nasionale polisiekommissaris, deur die eenheid ondersoek word.
Kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, sê die klagte is wel ontvang, maar dit hou verband met ‘n bestaande ondersoek wat reeds deur die Valke hanteer word. Om dubbele ondersoeke te voorkom, is die klagte na dié direktoraat verwys en die klaer is daarvan in kennis gestel. Die Valke beklemtoon dat die verwysing van die klagte nie beteken dat ‘n strafsaak geregistreer of ‘n strafregtelike ondersoek deur die Valke ingestel is nie. Die klagte is slegs na die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (Idac) verwys omdat die aangeleentheid reeds daar ondersoek word.
Die Valke sê alle verdere navrae oor die hantering van die klagte moet aan Idac gerig word.





