Die departement van binnelandse sake waarsku teen wat hy beskryf as ’n grootskaalse disinformasieveldtog oor die Konstitusionele Hof se uitspraak in die Scalabrini Centre of Cape Town-saak en die verwerking van asielaansoeke.
Binnelandse sake het Woensdag gesê dit is “kategories vals” dat die besluit om die sogenaamde “good cause”-onderhoude op te skort, op inisiatief van die minister, die departement of politieke partye geneem is. Volgens die departement is die Konstitusionele Hof se uitspraak van 7 Julie bindend en is ’n operasionele direktief daarna uitgereik om uitvoering aan die uitspraak te gee. Die hof het sekere bepalings van die vlugtelingwet ongrondwetlik en ongeldig verklaar, insluitend bepalings wat onder sekere omstandighede die deportasie van ’n asielsoeker sonder ’n transitovisum moontlik gemaak het.
Die Scalabrini Centre, ’n nie-winsgewende organisasie wat migrante, vlugtelinge en Suid-Afrikaners bystaan, het die minister se hantering van sekere asielprosedures in die hof betwis. Binnelandse sake beklemtoon dat die uitspraak nie aan asielsoekers burgerskap verleen of ’n algemene wettiging van buitelanders beteken nie. Die departement sê die saak sal na die onafhanklike verkiesingskommissie verwys word vir verdere optrede ingevolge die nuwe gedragskode oor die bekamping van disinformasie.
Binnelandse sake doen intussen ’n beroep op Suid-Afrikaners om inligting te verifieer voordat dit versprei word. Druk hier om meer te lees.