OOS-KAAP. – Ses rowers is Dinsdag vir hul betrokkenheid by ’n reeks ernstige misdrywe, insluitend gewapende roof, poging tot moord, beskadiging van eiendom en die besit van onwettige vuurwapens en ammunisie in die Bisho-hooggeregshof tot verskeie jare tronkstraf gevonnis
AO Ndiphiwe Mhlakuvana, woordvoerder vir die Valke, sê Fikile Msindwana (54), Camagu Zimela (47), Siphelo Mase (34), Siyabonga Mkhangeli (34), Noveki Maqungeni (38) en Zoleka Ntsizi (46) is gedurende 2019 en 2022 in hegtenis geneem. Die groep is met 12 sake verbind, waaronder verskeie besigheidsrooftogte en kontant-in-transito-rowe wat tussen 2018 en 2019 in die Oos-Kaap gepleeg is.
Die hof het die vonnisse soos volg vir elke rower opgelê:
Msindwana is skuldig bevind op aanklagte 4, 5, 6, 7, 8, 9, 11, 12, 13, 14, 15, 16, 18, 19, 20 en 21, waaronder gewapende roof, poging tot moord, beskadiging van eiendom, roekelose afvuur van ’n vuurwapen en die onwettige besit van verbode vuurwapens en ammunisie. Die hof het beveel dat sommige vonnisse saamloop, wat neerkom op ’n effektiewe vonnis van 50 jaar tronkstraf. Hy mag eers oorweeg word vir parool nadat hy minstens 20 jaar uitgedien het en hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Zimela is skuldig bevind en gevonnis op aanklagte 1, 2, 4, 5, 7, 8, 9, 11, 12, 13, 15, 16 en 18, van onder meer gewapende roof, poging tot moord, beskadiging van eiendom, die onwettige besit van ’n vuurwapen en die roekelose afvuur van ’n vuurwapen. Die hof het beveel dat al die vonnisse saamloop met dié op aanklag 1, wat ’n effektiewe vonnis van 15 jaar tronkstraf beteken. Hy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Mase is onder meer skuldig bevind op aanklagte 1, 9, 11, 12, 18, 19, 20, 21, aan gewapende roof, poging tot moord, die roekelose afvuur van ’n vuurwapen en die onwettige besit van verbode vuurwapens en ammunisie. Volgens die hof se opdragte rakende saamloop van vonnisse, sal hy ’n effektiewe vonnis van 20 jaar uitdien.
Mkhangeli is op aanklag 1 tot 12 jaar tronkstraf gevonnis vir gewapende roof en is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Maqungeni is op aanklag 20 tot 5 jaar tronkstraf gevonnis, geheel en al opgeskort vir 5 jaar, op voorwaarde dat sy nie gedurende dié tyd aan onwettige vuurwapenbesit skuldig bevind word nie. Sy is onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Ntsizi is op aanklag 13 tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis, geheel en al opgeskort vir 5 jaar, met streng voorwaardes rakende gewapende roof. Sy is verder tot 3 jaar korrektiewe toesig gevonnis en onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
Genl.maj. Mboiki Obed Ngwenya, provinsiale hoof van die Valke, het die ondersoekspan geprys: “Die span het uitstekende werk gedoen om te verseker dat al die beskuldigdes die vonnisse ontvang wat aan hulle opgelê is.”





