GAUTENG. – Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag by die Uniegebou aangekondig dat lt.genl. Puleng Dimpane as waarnemende nasionale polisiekommissaris aangestel is. Intussen is genl. Fannie Masemola op voorsorgskorsing geplaas. Terselfdertyd is nege wetstoepassers Donderdag op aanklagte van korrupsie, afpersing en betreding deur die Valke in hegtenis geneem. In ’n aparte voorval is nog vier beamptes met kennisgewings bedien om in die hof te verskyn ná ’n ondersoek wat uit ’n klagte in 2024 spruit.
Ramaphosa sê die besluit is geneem weens die erns van die aanklagte en die belangrike rol van die kommissaris in die stryd teen misdaad. Hy beklemtoon dat wetstoepassingsagentskappe betroubaar en doeltreffend moet wees om die publiek se vertroue te behou. Volgens die president sal Dimpane, wat uitgebreide ervaring het, fokus op stabiliteit binne die polisie en onder meer probleme met verkrygingsprosesse aanpak. Hy het bygevoeg dat die stryd teen misdaad en korrupsie moet voortgaan en dat die reg sy gang moet gaan. Firoz Cachalia, die minister van polisie, en Dimpane sal binnekort verdere planne bekend maak. Druk hier om meer te lees.
Intussen sê kol. Katlego Mogale, Valke-woordvoerder, nege wetstoepassers sal vandag (Vrydag) in die Johannesburgse landdroshof verskyn. Volgens Mogale het drie verdagtes op 22 April by ’n pakhuis in Crown Mines opgedaag, waarna ses metrobeamptes aangesluit het. Hulle het aangedui dat hulle die perseel wou deursoek. Tydens die deursoeking is ’n boks haarkleurmiddel gevind wat glo verval het, waarna een van die beamptes die klaer met inhegtenisneming vir omkoopgeld gedreig het. Die klaer het die Valke gekontak, waarna al nege die verdagtes op die toneel in hegtenis geneem is.
Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die beamptes buite hul jurisdiksie opgetree het en dat vier van hulle glo nie aan diens was nie. In die aparte voorval word beweer polisiebeamptes het destyds by ’n klaer se woning opgedaag, ‘n soektog uitgevoer en geld geëis. Die saak is later by die Vaal se Valke aangemeld, waarna dagvaardings uitgereik is. Die verdagtes moet op 22 Junie op aanklagte van diefstal in die Kempton Park-landdroshof verskyn.
Meer verdagtes sal na verwagting in hegtenis geneem word.




