VERULAM, KZN. – ’n Bok moes Vrydagmiddag uit ’n erf in Mountain View verwyder word nadat hy glo ’n hond en skoliere aangeval het.
Reaction Unit South Africa is deur ’n besorgde inwoner na die toneel ontbied oor ’n bok wat na bewering besig was om haar hond aan te val. Met hulle aankoms op die toneel het hulle inligting ontvang dat dieselfde bok glo ook skoliere wat die oggend na ’n plaaslike laerskool op pad was, aangeval het.
Die eienaar van die bok kon nie dadelik opgespoor word nie en dit is na die Rusa-kantore geneem. Volgens Rusa is die bok genaamd Akmed later deur sy eienaars uitgeken en hy is in hulle sorg vrygelaat.
Bron: Reaction Unit South Africa





