BRISBANE – Die Suid-Afrikaners het Saterdagoggend ‘n oorweldigende oorwinning van 33-7 oor Australië in die openingswedstryd van die Rugbykampioenskap op Suncorp-stadion behaal. Die Bokke het teen halftyd ‘n gerieflike voorsprong van 21-0 teenoor die Wallabies gehad, met drie verdoelde drieë.
In die tweede helfte het Suid-Afrika nog twee drieë gedruk terwyl die Wallabies se moed begin opraak het. Australië se enigste drie is in die laaste minuut behaal, toe die Springbokke net 13 manne op die veld was weens geel kaarte aan Malcolm Marx en Marco van Staden.
Dit was die Springbokke se eerste oorwinning by Suncorp-stadion sedert 2013, en hul vierde oorwinning in Brisbane. Alhoewel die Bokke se dissipline aan die einde van die wedstryd nie goed was nie, is een ding duidelik – die Springbokke raak al hoe beter. Die insluiting van spelers soos Elrigh Louw, Sacha Feinberg-Mngomezulu en Ben-Jason Dixon het hulle net verder versterk.
Die twee spanne ontmoet mekaar weer volgende Saterdag in Perth.