Die digitale reismaatskappy Booking.com het ooreengekom om die regstellende aksies wat deur die Mededingingskommissie aanbeveel is, na te kom. Hierdie aksies is ontwerp om prysmededinging in Suid-Afrika se aanlyn markte te verbeter.
Die Mededingingskommissie het in Mei 2021 met ‘n ondersoek na aanlynplatformmarkte begin. Dit het ‘n wye reeks plaaslike en internasionale aanlyn platforms ingesluit, insluitend e-handel, kosaflewering, eiendom- en motor geklassifiseerde advertensies, en aanlyn winkels en -reisagentskappe. Die rol van Google se soekenjin in hierdie markte is ook ondersoek. Navorsing is oor twee jaar deur die kommissie se navorsingspan uitgevoer.
Die aankondiging van die Mededingingkommissie op Dinsdag is goeie nuus vir verbruikers, en die Suid-Afrikaanse toerismebedryf in die algemeen. Die ooreenkoms met Booking.com beteken dat plaaslike hotelle en gastehuise nou ‘n laer tarief kan hef as wat op die reisplatform adverteer word.
Dit volg nadat Booking.com sy regstappe teen die Mededingingkommissie oor die bevindings van die Aanlyn Intermediêre Platforms Markondersoek (OIPMI) laat vaar het en ingestem het om aan die aanbevelings te voldoen.
Hierdie ooreenkoms word deur die Toerismesakeraad van SA (TBCSA) verwelkom as ‘n positiewe stap vir die plaaslike toerismebedryf. Die veranderinge sal verskaffers van akkommodasie meer vryheid gee om prysaanpassings te maak sonder die beperkings van die verlede. Hierdie stap is beskou as belangrik vir mededinging in die aanlyn reisbedryf, wat uiteindelik voordelig sal wees vir die Suid-Afrikaanse toerismesektor.
Bron: Mededingingskommissie