AUSTRALIë. – André de Ruyter (27) is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal nadat hy Maandagaand omstreeks 18:20 deur ’n haai by North Steyne-strand in Sydney gebyt is. De Ruyter het ernstige beserings aan sy onderbeen opgedoen en is deur ander strandgangers uit die water gesleep, wat spoedig noodhulp verleen het totdat paramedici op die toneel was. Hy is na die Royal North Shore-hospitaal geneem en het ’n noodoperasie, insluitend ’n beenamputasie, ondergaan.
Dit is die soveelste haai‑aanval in ‘n kort tydperk in die Sydney‑streek, wat gelei het tot uitgebreide strandsluitings deur owerhede. In die ander voorvalle is Nico Antic (12) in ‘n kritieke toestand gelaat ná ’n haaibyt in Sydney-hawe en ’n 11‑jarige seun het ongedeerd ontsnap toe ’n haai sy branderplank by Dee Why-strand aangeval het. Nog ‘n 39-jarige man het lig van ‘n haai-aanval afgekom, maar is ook in die hospitaal behandel.
Polisie en rampdiensbeamptes het gewaarsku dat die onrusbarende aantal aanvalle waarskynlik te wyte is aan veranderde waterstoestande ná onlangse swaar reën, wat haaie nader aan die kus lok. Alle strande in die Northern Beaches bly tot verdere kennisgewing vir branderplankryers en swemmers gesluit.
Bronne: ABC News, 9News Australia, ABC News





