Brekende Nuus
Suid-Afrika

Brandstofprys styg skerp vanaf Woensdag

Foto: Ter illustrasie

Motoriste sal vanaf Woensdag 2 September meer vir brandstof betaal nadat die minister van minerale en petroleumhulpbronne nuwe brandstofpryse aangekondig het. Kyk hier onder presies hoeveel jy gaan opdok by die petrolpomp.

🔴 Petrol 93: ↑ R1,34 per liter
🔴 Petrol 95: ↑ R1,34 per liter
🔴 Diesel 0,05% swael: ↑ R2,94 per liter
🔴 Diesel 0,005% swael: ↑ R3,15 per liter
🔴 Verligtingsparaffien: ↑ R2,13 per liter
🔴 LPGas: ↑ R0,69 per kg
🔴 LPGas in die Wes-Kaap: ↑ R0,79 per kg

Volgens die departement is die skerp verhogings hoofsaaklik die gevolg van duurder internasionale ruolie- en petroleumprodukpryse. Die gemiddelde Brent-ruoliprys het van $82,37 tot $87,88 gestyg. Voortgesette spanning tussen die VSA en Iran, onsekerheid oor olie-vloei deur die Straat van Hormuz en hoër vragkoste het volgens die departement tot die styging bygedra. Internasionale pryse vir petrol, diesel en paraffien het eweneens toegeneem, onder meer weens voorraadtekorte wat verband hou met die voortgesette Rusland-Oekraïne-konflik en laer wêreldvoorrade. ’n Sterker rand het van die internasionale styging teengewerk. Die gemiddelde wisselkoers het van R16,46 tot R16,21 teenoor die Amerikaanse dollar verbeter.

Die brandstofprysaanpassingsheffing styg terselfdertyd van R0,61 tot R0,83 per liter, ’n verhoging van R0,22. Teen einde Julie het die kumulatiewe tekort op die brandstofprysaanpassingsrekening vir petrol en diesel R9,52 miljard beloop. Die nuwe brandstofpryse tree op 2 September in werking.