LONDEN. – Die Britse koninklike familie bring vandag hulde aan wat die 100ste verjaardag van wyle koningin Elizabeth II sou wees, met die bekendmaking van omvattende planne vir ’n nuwe liefdadigheidsorganisasie en ’n gedenkprojek in Sentraal-Londen.
Volgens National World is verskeie geleenthede gereël om die land se ontslape monarg, wat bykans vier jaar gelede op 96-jarige ouderdom oorlede is, te herdenk. Haar seun, koning Charles III, en sy vrou, koningin Camilla, het die Britse Museum besoek om ontwerpe van die beplande gedenkteken te besigtig. Haar dogter, prinses Anne, het die Queen Elizabeth II-tuin in Regent’s Park geopen.
In ’n persoonlike boodskap het Charles sy ma geloof as standvastig en toegewy: “Haar byna eeu was een van merkwaardige verandering, en tog het sy deur elke dekade konstant gebly en die mense wat sy gedien het, getrou bly dien.”
Die beplande gedenkprojek sal St James’s Park hervorm en sluit onder meer ’n deurskynende brug van glas en standbeelde van Elizabeth en haar man, prins Philip, in. Die beeld van die koningin sal in brons deur die beeldhouer Martin Jennings vervaardig word.
Benewens die fisiese gedenkteken sal ’n digitale gedenkplatform geskep word waar mense wêreldwyd hul herinneringe aan die koningin kan deel. ’n Nuwe liefdadigheidsorganisasie, die Queen Elizabeth Trust, sal ook gestig word om projekte soos gemeenskapsentrums en groen ruimtes te ondersteun.
Herdenkingsseëls en -munte is reeds uitgereik, terwyl Buckingham-paleis ’n langtermyn-uitstalling aanbied met van die koningin se modeversameling.
Bronne: CNN, National World





