GAUTENG. – Die polisie het ‘n man wat deur die Britse owerhede gesoek word in verband met die moord op sy vrou en twee dogters, in Kensington, Johannesburg, in hegtenis geneem. Die verdagte sal na verwagting Maandag in die hof verskyn.
Brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, sê Ndodana Mkhanyisi Tshuma is Vrydag ná ‘n gesamentlike operasie deur die polisie se interpol nasionale sentrale buro, misdaadintelligensie en die eenheid vir georganiseerde misdaadondersoeke vasgetrek. Die Britse owerhede soek Tshuma in verband met die moord op sy vrou, Nothabo Zandile Tshuma (42), en hul twee dogters, Natalie (15) en Nala (5). Die drie se liggame is by hul woning naby Bedford in Engeland aangetref. Volgens die polisie het intelligensiegedrewe ondersoeke en noue samewerking tussen die betrokke eenhede daartoe gelei dat die verdagte opgespoor en in hegtenis geneem is.
Die waarnemende nasionale polisiekommissaris, lt.genl. Puleng Dimpane, het die lede wat aan die operasie deelgeneem het, geloof vir hul vinnige en gekoördineerde optrede. “Hierdie inhegtenisneming wys dat Suid-Afrika nie ‘n toevlugsoord vir voortvlugtiges is nie. Enigiemand wat dink hulle kan geregtigheid ontduik deur na ons land te vlug, moet weet die SAPD sal saam met internasionale wetstoepassingsvennote werk om hulle op te spoor en in hegtenis te neem,” het Dimpane gesê.





