Brekende Nuus
Misdaad

Broers tydens huisroof geskiet – 1 sterf

Foto: Ter illustrasie

MPUMALANGA. – Twee broers is Saterdag tydens ’n huisroof by hul woning in Witbank (Emalahleni) geskiet. Francois Steenkamp (38) het aan sy skietwonde beswyk.

Volgens ‘n sosialemediaplasing van Karp Bonanza was Francois en Santa Steenkamp by die Loskopdam Classic en hulle twee seuns by hulle huis in Witbank. Huisrowers het glo ingebreek terwyl die twee broers tuis was. Die oudste broer het glo sy 32-jarige broer probeer beskerm en is in die proses sewe keer geskiet. Hy is op die toneel dood. Die jonger broer is in die maag gewond en moes ‘n noodoperasie ondergaan en is volgens die plasing stabiel.

Karp Bonanza vra in die plasing dat die Steenkamp-gesin in hierdie moeilike tyd ondersteun en in gebede onthou word.

Nuusflits het polisiekommentaar gevra.