VEREENIGING. – Die polisie moes Vrydag 24 Julie 2026 ingryp nadat ‘n groep Suid-Afrikaners en buitelandse sake-eienaars in Vereeniging in die Vaal gebots het.
Volgens berigte het die groep Suid-Afrikaners gesweer dat hulle nie sal terugstaan voordat buitelanders die dorp verlaat het nie. Die groep eis dat die buitelanders na hul lande van herkoms terugkeer.
Hulle het paaie met brandende buitebande en klippe versper, terwyl die vensters van voertuie en winkels wat aan buitelanders behoort, stukkend geslaan is.
Tydens die botsings, wat in die dorp se sakekern plaasgevind het, het die twee groepe mekaar met klippe bestook.
Een van die betogende Suid-Afrikaners, Jabu Mahlangu, sê: “Immigrante is nie veronderstel om besighede in ons gebiede te bedryf terwyl daar soveel armoede is nie. Hierdie is een van die armste gebiede in die hele Gauteng, en ons kan nie toesien hoe buitelanders die geld vat en na hul eie lande stuur nie. Die mense van die Vaal sê genoeg is genoeg. Dit gaan nie net Donderdag wees nie; dit gaan elke dag wees. Ons het ekonomiese herstel nodig.
Bron: SABC Nuus





