Brekende Nuus
Nuus

Seun gered nadat hy in malvalekker verstik

Foto: KwaZulu Private Ambulance Service

KWAZULU-NATAL. – ’n 10-jarige seun is omstreeks 14:00 by ’n naskoolsentrum in Vryheid gered nadat ’n malvalekker sy lugweg versper het. ’n Onderwyser het met kardiopulmonêre resussitasie (KPR) begin toe die seun sy bewussyn verloor het. Sy hart het weer begin klop nadat paramedici gevorderde lewensondersteuning toegepas het.

Craig Botha van KwaZulu Private Ambulance Service sê die onderwyser het die tekens van verstikking herken danksy noodhulpopleiding wat twee jaar tevore voltooi is. Die onderwyser het probeer om die malvalekker los te kry terwyl ander personeellede die ambulansdiens ontbied het. Noodspanne het binne minute opgedaag en die resussitasie oorgeneem. Nadat die seun se hart weer begin klop het, is hy na ’n nabygeleë hospitaal vir verdere behandeling en stabilisering geneem.

Botha skryf die suksesvolle resussitasie toe aan die onderwyser se vinnige optrede en moedig mense aan om noodhulp- of KPR-opleiding te ondergaan.