AfriForum het die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, aangespreek oor die ernstige vertragings in die verwerking van vuurwapenlisensie-aansoeke by die sentrale vuurwapenregister (SVR). Dit kom nadat die burgerregteorganisasie klagtes van die publiek ontvang het, waarvan sommige al vir maande lank geen terugvoer oor hul vuurwapenlisensie-aansoeke ontvang het nie.
Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid vir Afriforum, sê ondanks die destydse versekering van die portefeuljekomitee oor polisie dat die vertragings by die SVR hanteer word, wil dit voorkom dat daar weer ’n aansienlike agterstand ontwikkel het. Dit veroorsaak nie net groot onsekerheid en frustrasie nie, maar laat dié aansoekers ook kwesbaar, sê Broodryk.
In AfriForum se skrywe aan die kommissaris het die burgerregteorganisasie ’n reeks vrae gestel oor die huidige stand van sake, die redes vir die hernieude vertragings en die oënskynlike stagnasie in die digitalisering van die vuurwapenregister. Die organisasie het ook deursigtigheid gevra oor die gebruik van die R30 miljoen wat bewillig is om die SVR se bedrywighede op te skerp.
“Dit is onaanvaarbaar dat wetsgehoorsame burgers kwesbaar gelaat word weens burokratiese ondoeltreffendheid. AfriForum is deur talle mense genader wat maande wag sonder enige terugvoer oor hul aansoeke,” sê Broodryk.
“Ondanks destydse versekerings dat dié proses gestroomlyn gaan word, skets die werklikheid ’n heel ander prentjie. Dit is hoogtyd dat die vuurwapenlisensie-aansoekproses gedigitiseer word om onnodige rompslomp te vermy. Dít is hoekom AfriForum aanspreeklikheid en onmiddellike optrede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) eis.”





