Jeffrey Archer, meester van die riller, politieke drama, familiekronieke en kortverhaal, is gister op 5 Oktober op 86-jarige ouderdom oorlede. Sy laaste roman, Adam & Eve, verskyn vandag, 6 Oktober.
Archer was een van die wêreld se suksesvolste skrywers. Sy boeke het internasionaal meer as 300 miljoen eksemplare verkoop.
Van sy bekendste boeke is: Kane and Abel, Not a Penny More, Not a Penny Less, The Prodigal Daughter en A Matter of Honour.
Archer se groot aantrekkingskrag was sy vermoë om ‘n storie aan die gang te hou. Sy romans bevat dikwels ryk en magtige mense, familiekonflik, ambisie, verraad en baie onverwagte wendings. Hy was veral goed met die soort einde wat jou laat dink: “Ek moet net nog een hoofstuk lees.”
Archer het aanvanklik ‘n politieke loopbaan gevolg, maar hom tot skryf gewend toe hy finansiële probleme gekry het. Hy het later weer tot die Britse politiek toegetree.
In die 1980’s is Archer se lewe oorskadu deur ‘n skandaal. Hy het ‘n lastersaak teen die Daily Star gewen nadat die koerant beweer het dat hy ‘n prostituut vir seks betaal het. Jare later het dit aan die lig gekom dat Archer sy alibi uitgedink en tydens die hofsaak onder eed gelieg het.
In 2001 is hy skuldig bevind aan meineed en dwarsboming van die gereg en tot vier jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het ongeveer twee jaar uitgedien.
Selfs sy gevangenistyd het later materiaal vir sy skryfwerk geword. Hy het drie boeke geskryf oor sy ervaring in die tronk: A Prison Diary – Hell, Purgatory en Heaven.
Sy laaste roman, Adam & Eve, verskyn vandag.