WES-KAAP. – Agt van die Wes-Kaap se 25 gespesialiseerde polisie-eenhede het volgens die polisie se jongste voorraadverslag geen forensiese stelle (rape kits) om bewyse in verkragtingsake, waarby kinders betrokke is, in te samel nie. Vyf eenhede het geen stelle vir volwassenes nie en vier het nie een van die twee soorte stelle nie. Ian Cameron het dié syfers Dinsdag bekendgemaak, voordat die 16 Dae van Aktivisme teen Geslagsgeweld vandag ‘n aanvang neem.
Ian Cameron sê hy en Nicholas Gotsell sou Dinsdag onaangekondigde toesigbesoeke aflê om die tekorte by die polisie se eenhede vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS) te ondersoek. Volgens Cameron is die tekorte reeds maande gelede uitgewys en het Firoz Cachalia, waarnemende minister van polisie, destyds versekering oor die saak gegee. Cameron sê die gebrek aan stelle kan daartoe lei dat bewyse verlore gaan wat nie later herwin kan word nie. Hy vra dat diegene wat verantwoordelik is vir die voorraadtekorte, aanspreeklik gehou word.
