Chris Steyn, oftewel Plakkies, die gewilde Afrikaanse sanger en liedjieskrywer, het Ek Kom Jou Haal, wat die emosies en uitdagings van ’n langafstandverhouding uitbeeld, vrygestel.
Fanie Nel van die Coleske Groep sê Ek Kom Jou Haal is deur Marco van Deventer en Georic Lomas geskryf, met Chris wat sy eie styl en gevoel bygevoeg het. Die lied vertel die storie van ’n man wat uiteindelik besluit om die afstand tussen hom en sy geliefde te oorbrug en selfs die groot vraag te vra.
Volgens Chris lê die tema hom na aan die hart, aangesien hy self in ’n langafstandverhouding is. Hy sê hy verstaan die verlange en emosie wat daarmee saamgaan, al is hy nog nie by die punt van trou nie. Met ’n lekker sokkie-ritme en eerlike lirieke glo hy baie mense, veral Suid-Afrikaners wat oorsee werk, sal hulself in die lied herken.
Die musiekvideo wys hoe die storie ontvou – van kuier saam met vriende tot die besluit om alles te los en sy geliefde te verras. Die video is in Pretoria verfilm en deur ETG Productions vervaardig, met vriende van die sanger wat ook daarin te sien is.





