CULLINAN. – Kalla (65) en Engela (56) du Preez woon op Boekenhoutskloofdrift, op ’n kleinhoewe in Leeukloof, Cullinan – ’n 43 hektaar eiendom waar hulle met kleinvee boer. Kalla is op 1 Mei 2025, net na 21:00, deur ’n gewapende vermeede rower by sy veiligheidshek van sy voordeur in die arm geskiet.
Geskiet by voordeur
Kalla du Preez vertel aan Nuusflits dit was nie die eerste keer dat daar mense by hulle probeer inbreek nie. Hy het al by ’n vorige geleentheid verdagtes by sy motorhuis verwilder. “Ons eiendom is omhein, so hulle moes op ’n manier ingekom het. Die aand van die skietvoorval het ek gaan kyk wat ek hoor by die voordeur. Twee mans was besig om met gereedskap ons voordeur se sekuriteitshek te probeer oopbreek. Ek het terug kamer toe gehardloop om my vuurwapen te gaan haal. My broer, wat ook by ons bly, het intussen gehoor watter lawaai ek maak en voordeur toe beweeg. Hy het die voordeur oopgesluit en ek het uitgestap by die staalhek. Ek moes dit nie gedoen het nie. Aanvanklik het ek die twee verdagtes sien weghardloop, maar die oomblik toe ek uitstap, is ek in my arm geskiet.”
In plas bloed op sitkamervloer
Hulle het dadelik terug in die huis gegaan, die hek gesluit en Du Preez het in ’n plas bloed op die sitkamervloer gaan lê. “My vrou het plaasveiligheidspatroleerders en die gemeenskapspolisiëringsforum gebel.”
Die GPF was eerste op die toneel, maar moes eers oor die omheining klim om by die huis uit te kom. Du Preez sê die polisie het lank na die GPF opgedaag. “Ek is baie ontsteld. Die polisie is hier weg en ek het tot vandag toe nog nie ’n saaknommer ontvang nie.” Du Preez is kort daarna per ambulans na die Steve Biko-hospitaal gebring om vir die skietwond behandel te word.
Polisie vertel ander storie
Kapt. Johan van Dyk van die SAPD het aan Nuusflits gesê daar is “klaarblyklik probeer om by ’n plek op ’n plaas in te breek en die eienaar het die gemeenskap gemobiliseer. Tydens die soektog in ’n bos het van die GPF-patrollielede hulle vuurwapens uitgehaal en skote geskiet. Die een patrolleerder is in sy arm gewond.”
GPF soek antwoorde van polisie
Hierdie weergawe word sterk weerspreek deur André van Heerden, visie-voorsitter van die GPF van Cullinan. Van Heerden sê aan Nuusflits hulle het die noodoproep dié aand ontvang en na die kleinhoewe gejaag. “Ons moes oor die hek klim. Twee van ons het dadelik by die huis ingegaan, een met die mediese tas. Die res van die lede het die paaie buite gepatrolleer. Die een medikus wat saam met my was, het gesien ’n ou bekruip ons en ek het ’n skoot op die grond afgevuur. Die verdagtes het toe weggehardloop. Ons het hulle nie agternagesit nie, want die bosse waarheen hulle gevlug het, is te ruig en daar is baie rotse. Dit is te gevaarlik.”
Gewapende verdagte wat inkom en blatant skiet – ís plaasaanval
Van Heerden sê die GPF klassifiseer ’n plaasaanval as ’n “gewapende verdagte wat inkom en jou blatant skiet. Hy is onwettig op die grond en hy is gewapen. Die polisie gebruik enige verskoning om te sê dis nie ’n plaasvaanval nie. Ek wil ’n verskoning van die polisie hê. Dis ’n ernstige aantyging om te sê ons het op mekaar geskiet. Ons kry nie tans antwoorde van die polisie nie en iemand het verkeerde inligting deurgegee. Ek wil weet wie.”
Volgens die GPF was hulle nie die oorsprong van enige verwarring nie. “Ons het opgeleide mense. Kalla is nie deel van ’n patrollie nie. Hy was in sy huis, het lawaai gehoor en toe uitgegaan. Iemand het hom geskiet. Dit was ’n gewapende ou op sy eiendom – dit is ’n plaasaanval.”
Du Preez stem saam: “Hierdie klassifiseer as ’n plaasaanval. Die polisie probeer dit afmaak as iets anders.” Die slagoffer is ook nie ’n onbekende in veiligheidstrukture nie: “Ek is die president van ’n Bikers Klub genaamd 911 Riders. Ons ry teen plaasaanvalle.”
Nuusflits het weer ’n navraag aan die polisie gestuur om die onduidelikheid op te klaar. Kapt. van Dyk, polisiewoordvoerder, het aan Nuusflits bevestig ‘n saak van poging tot moord is oopgemaak. “Ons staan by die ondersoek en die ondersoek duur voort.”
