DA eis dringende optrede oor reuse-agterstand in DNS-toetse

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

Die DA doen ‘n beroep op die regering om Suid-Afrika se kapasiteit vir DNS-toetse dringend uit te brei. Dit volg nadat antwoorde op parlementêre vrae volgens die party onthul het dat 299 000 toetse wag om verwerk te word en die groot agterstande in forensiese ontledings die strafregstelsel onder druk plaas.

Ian Cameron, die DA se adjunkwoordvoerder oor polisie, sê byna 299 000 DNS-monsters wag tans om verwerk te word. Hiervan het meer as 228 000 reeds die voorgeskrewe verwerkingstyd van 90 dae oorskry. Volgens Cameron sluit die agterstand 62 975 sake in wat verband hou met moord, verkragting en seksuele misdrywe teen kinders. Meer as 32 000 van dié monsters is volgens hom van kritieke belang vir hofverrigtinge. Hy sê die gemiddelde wagtyd vir DNS-monsters is tans sowat 800 dae, terwyl die oudste monster reeds 1 273 dae oud is.

Hoewel dié spesifieke vertraging aan administratiewe foute toegeskryf word, meen die DA die omvang van die agterstand dui op ‘n veel groter probleem. Die party waarsku dat onverwerkte DNS-bewyse ernstige gevolge vir misdaadondersoeke kan hê. Volgens Cameron kan dit daartoe lei dat verdagtes nie met misdaadtonele verbind word nie, ondersoekers belangrike leidrade verloor, aanklaers met swakker bewyse moet werk en slagoffers langer vir geregtigheid moet wag.

Kommer word ook deur die DA uitgespreek oor bewerings dat sommige laboratoriums slegs een bewysstuk van ‘n misdaadtoneel ontleed, hoewel verskeie monsters vir ontleding ingesamel is. Die party wil verder vasstel of enige DNS-monsters weens die vertragings onbruikbaar geword, besoedel is of verlore geraak het.

Die DA vra dat die Suid-Afrikaanse Polisiediens dit dringend oorweeg om met behoorlik toegeruste en geakkrediteerde universiteitslaboratoriums saam te werk om die agterstande te help uitwis. Volgens Cameron verteenwoordig elke DNS-monster wat nie betyds verwerk word nie ‘n werklike slagoffer en verhoog dit die risiko dat oortreders nie tot verantwoording geroep sal word nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief