*PERSVERKLARING
Die Demokratiese Alliansie (DA) het vandag saam met die Kakamas-gemeenskap opgeruk na Kai !Garib -munisipaliteit uit frustrasie met voortdurende watertekorte.
Reinette Liebenberg, LPW DA-kiesafdelingshoof van Bo-Karoo het gesê: “Inwoners sukkel al vir vyf maande met ’n gebrek aan water. Water word lukraak aan- en afgeskakel. Sommige mense het geen water in hul krane nie. Dit word vererger deur uitmergelende hitte.”
“Watertekorte in Kai !Garib-munisipaliteit is niks nuuts nie. Aan die begin van 2023, toe watertekorte óók verwoesting in mense se lewens en lewensbestaan gesaai het, het die munisipaliteit die publiek ingelig dat hulle van beurtkrag vrygestel gaan word en dat ’n aansoek by Eskom ingedien is. Tot op hede het dit nie gerealiseer nie.”
“Meer as ‘n jaar later was daar ook geen noemenswaardige optrede ten opsigte van die instandhouding en opgradering van die Kakamas-waterstelsel nie. Die huidige oorsaak van die watertekorte is nog nie eens vasgestel nie. Intussen is kontrakte aangegaan vir die verspreiding van water via tenkwaens.”
“Dit is om hierdie rede dat ons saam met die gemeenskap ‘n memorandum aan die burgemeester van Kai !Garib-munisipaliteit oorhandig het, waarin geëis word dat dringend aandag gegee word aan die identifisering van die werklike oorsaak van die waterprobleme. Ons versoek ook dat ‘n waterregstellingsplan dringend ontwikkel en geïmplementeer word, met die toewysing van nodige hulpbronne vir die volhoubare voorsiening van water aan álle areas van die dorp.”
“Bowenal het ons ook geëis dat die gemeenskap betrokke moet wees by die beplanning en besluitnemingsprosesse met betrekking tot watervoorsiening, aangesien dit die gemeenskap is wat onder Kai !Garib se waterbestuursmislukkings ly.”
“Die waterkrisis in Kai !Garib is een van baie in die Noord-Kaap, met soortgelyke scenario’s wat in Sol Plaatje, Magareng, Dikgatlong en Emthanjeni afspeel. Dit beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om waterbestuur ‘n provinsiale prioriteit te maak.”
“’n DA-regering sal dringend bestuursuitdagings binne munisipaliteite aanspreek om die voorsiening van skoon, volhoubare watervoorsiening te verbeter deur private maatskappye by waterinfrastruktuurprojekte te betrek en te verseker dat fondse uitsluitlik gekanaliseer word om waterinfrastruktuur in stand te hou, deur ’n toegewyde toekenning.”
“Dit is tyd dat inwoners van Kakamas en die Noord-Kaap die provinsie red van waterkrisisse wat deur munisipaliteite geskep word. Hierdie redding kom deur vir die DA te stem.”
*PERSVERKLARING
*HIERDIE PERSVERKLARING IS BETAAL DEUR DIE BETROKKE POLITIEKE PARTY
Lees ook: Vandag is laaste dag om te registreer om te stem – OVK





