GAUTENG. – Die DA wil die redes vir die groot aantal uitstaande hofbeslissings ondersoek nadat ’n onlangse verslag ’n kommerwekkende agterstand blootgelê het.
Adv. Glynnis Breytenbach, DA-woordvoerder vir justisie en konstitusionele ontwikkeling, sê die party gaan parlementêre meganismes gebruik om vas te stel waarom soveel uitsprake vertraag word en watter stappe geneem kan word om die situasie te verbeter. Die verslag van die kantoor van die hoofregter toon dat 1 657 sake in hoër howe nog wag op uitsprake. Van dié sake is meer as 300 reeds langer as ses maande hangende, al behoort beslissings normaalweg binne drie maande gelewer te word.
Volgens die DA raak hierdie vertragings nie net individue se toegang tot geregtigheid nie, maar skaad dit ook vertroue in die regstelsel. Dit kan verder ekonomiese groei kniehalter, aangesien besighede afhanklik is van vinnige en duidelike hofuitsprake.
Die party beplan om vrae hieroor in die parlement te stel en kan ook die kantoor van die hoofregter voor die justisie-portefeuljekomitee roep om verduidelikings te gee. Breytenbach sê die fokus is nie net daarop om die probleem uit te wys nie, maar om werkbare oplossings te vind wat die doeltreffendheid van die howe kan verbeter.
Druk hier om meer te lees.





