NOORD-KAAP. – Die DA doen ‘n beroep op die ANC om ‘n raadslid van die Nama Khoi- plaaslike munisipaliteit onmiddellik te skors, nadat hy en twee ander verdagtes glo met vermoedelik gesteelde koper- en aluminiumkabels in hul besit aangekeer is. Nadat Garies-polisie die inhegtenisnemings gemaak het, word daar verwag dat die raadslid vandag op aanklagte in die hof sal verskyn.
Volgens Rodney Kritzinger, die DA se koukusleier en ook burgemeester in Nama Khoi, hou infrastruktuurdiefstal steeds ernstige gevolge vir die munisipaliteit en sy inwoners in. Hy sê die diefstal van kabels en metaal lei gereeld tot onderbrekings van basiese dienste en plaas verdere druk op munisipale hulpbronne. Kritzinger wys daarop dat koperwatermeters onlangs in Springbok en omliggende gebiede gesteel is, terwyl vorige kabeldiefstal tot langdurige kragonderbrekings in Steinkopf, Buffelsrivier en Komaggas gelei het. Hy voeg by dat sommige diensonderbrekings ook met sabotasie van elektriese infrastruktuur verbind word.
Die DA sê die aantygings teen die raadslid is ernstig en meen die ANC behoort op te tree hangende die afhandeling van die saak. Die party het inwoners ook aangemoedig om enige verdagte optrede of infrastruktuurdiefstal by die polisie of die munisipaliteit aan te meld.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Ivan Magerman, is drie verdagtes Dinsdag vir die beweerde besit van vermoedelik gesteelde koper-, aluminium- en Eskom-kabels in hegtenis geneem. Beamptes van Garies-polisie het inligting opgevolg oor ‘n wit Ford Ranger-bakkie wat glo omstreeks 09:00 vermoedelik gesteelde kabels na Kaapstad vervoer het.
Polisiebeamptes het die voertuig tydens ‘n patrollie opgespoor, voorgekeer en na die Garies-polisiekantoor geneem vir verdere ondersoek. Tydens ‘n deursoeking, wat in die teenwoordigheid van die insittendes gedoen is, is verskeie sakke met vermoedelik gesteelde koper-, aluminium- en Eskom- elektriese kabels gevind.
Die drie verdagtes is in hegtenis geneem. ‘n Ford Ranger, wat glo gebruik is om die misdaad te pleeg, is ook as deel van die ondersoek gekonfiskeer. Die herwonne koper word op sowat R19 824 en die aluminium op ongeveer R3 330 geraam. Die totale waarde van die materiaal waarop beslag gelê is, beloop na raming R23 154.





