Deur Dana Snyman vir Kerkbode
’n Nissan 1400 is soos ’n Bybelse donkie. ’n Nederige pakdier, geduld op vier wiele. ’n Nissan 1400 is vir niemand ’n statussimbool soos ’n Ferrari of die nuutste Audi nie. ’n Nissan 1400 is genade.
Sien ek ’n Nissan 1400-bakkie iewers staan, hou ek dikwels daarby stil. Oral in die land sien jy nog van dié bakkietjies, al het Nissan in 2008 al opgehou om hulle te vervaardig.
Is die bakkie se baas nie by nie, probeer ek hom – dit is omtrent altyd ’n hom – in die hande kry. Hoe lank het hy al die bakkie? wil ek dan weet. Waar het hy dit gekoop? En hoeveel kilo’s het die bakkie op die klok? Sulke vrae roep stories op.
Later sal ek hom vra of ek ’n foto van hom by die bakkie kan neem. Ek het al meer as vyftig sulke foto’s.
Die eerste een het ek ’n jaar of drie gelede op Stofkraal in die Namakwaland afgeneem. Kallie Andrew s’n. So ’n blouetjie wat nie meer kon ry nie. Agterop daardie bakkie is Kallie se jongste seun gebore, een heilige dag iewers anderkant Stofkraal, op pad na die kliniek op Garies.
Op afgeleë plekke is so ’n bakkie dikwels vir ’n hele klein gemeenskap ’n soort uitkoms. Om kos en ander noodsaaklike goed te gaan koop. Om aan die begin van ’n nuwe maand mense te neem om hulle Sassa-geld te gaan opeis. Of ’n sieke na ’n kliniek te neem.
Anderkant Fochville het ek op twee kêrels afgekom wat ’n 1400 stoot waarop ’n vrag vuurmaakhout was.
Eben Basson, die slangvanger van Wolseley, doen sy werk met ’n 1400 waarop groot geverf is: Eben Snake Rescue.
Op Willem Verwey van Touwsrivier se blouetjie staan: Verwey Satelliet Dienste. Willem installeer DStv-skottels vir die dorp se mense.
Jos Jaftha ry die Boland vol en verkoop vars vis van sy 1400 af.
’n Nissan 1400 praat nie groot en is nie opgeblase nie, is lankmoedig en vriendelik, besef ek wanneer ek na die foto’s kyk. Dit is ’n demokratiese bakkie.
Op Sutherland in die Roggeveld neem ek ’n foto van Madie du Plessis by haar wit 1400. “Jy moet met Gieries praat,” sȇ sy en vertel ’n storie van hierdie Gieries se rooi 1400 wat ek sukkel om te glo.
Dit word ’n intense soektog na Gieries deur die gedeelte van Sutherland waar ek nooit andersins sou gekom het nie. Glasstukke wat op sypaadjies in die son blink. ’n Stukkende wasmasjien op ’n stoep. ’n Vrou in ’n japon en pantoffels op pad na ’n spazawinkel.
Uiteindelik spoor ek hom op: Gerhard Klein, alias Gieries. En hy bevestig Madie du Plessis se storie: ’n Paar jaar gelede het ’n fratsvloed in die distrik sy pa Marais, en ma Maria, en broer in ’n rivierloop meegesleur in die rooi 1400. Byna ’n week later is die drie se liggame uit die bakkie onder ’n vrag modder gehaal, asook die van hulle hond, Kollie. Ná die begrafnis het Gieries en ’n werktuigkundige die 1400 uitgesleep en begin ontmodder.
“En kyk net,” het Gieries na die wederopgestane rooi 1400 voor sy huis beduie. “Ek was gister met haar Ceres toe.”
Gieries se vriend, Jakob Makopan, het ook ’n 1400, ’n wrak van ’n ding wat aan die bibber en rook gaan wanneer hy die sleutel draai en die enjin vat.
Ek hoor nog Jakob se getuienis: “Ek is baie heilig op hierdie bakkie. Ek het vir hom vierduisend rand betaal. Hy gee my goeie diens. Ek was al Koue-Bokkeveld toe met hom – oral.” En toe ons groet, sê Jakob: “Dit is vir my aangenaam om mense te ontmoet wat ek nooit gesien of van gehoor het nie. Dit is wat die Here van ons verwag. Ons moet nederig wees teenoor mekaar.”
Jakes Jacobs van Bloemfontein, wat oorlede is sedert ek die foto geneem het, het sy 1400 oranje laat verf, fanatiese Cheetah-ondersteuner wat hy was.
Op Karatara naby George het ’n vrou in ’n moeë stem vertel hulle gedaan groen 1400 het al “meer as ’n miljoen gedoen, maar ons soek nou na ’n ander bôddie vir hom.” Dit het byna geklink of sy oor haarself praat. Sy sit in ’n rolstoel, haar een been geamputeer.
Soms neem ek in die ry foto’s van 1400-bakkies, veral dié wat erg oorlaai is.
Ek het ’n klomp foto’s van 1400’s wat iewers gebreek staan, soms sonder wiele. Dit is asof jy daardie bakkies soos Bileam in die Bybel se donkie kan hoor kla: “Wat het ek jou aangedoen dat jy my nou al drie keer geslaan het? … Is ek nie die donkie waarop jy nog altyd gery het nie? Maak ek altyd so met jou?”
Hoekom ek die 1400’s begin afneem het, weet ek nie altyd nie. Miskien is ek net knaend op soek na dinge wat ons oor alle grense in gemeen het in hierdie stukkende land van ons.
Vrywaring: Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.





