Brekende Nuus
Misdaad

Danny Jordaan en medebeskuldigdes se saak tot November uitgestel

Saak teen SAFA-baas Danny Jordaan uitgestel

fotokrediet: X
Saak teen SAFA-baas Danny Jordaan uitgestel fotokrediet: X

GAUTENG. – Die saak teen Daniel Jordaan, voormalige Safa-president, en vier medebeskuldigdes is in die spesiale handelsmisdaadhof in Palm Ridge tot 27 November uitgestel. Die uitstel is hangende die uitslag van ’n hooggeregshof-hersieningsaansoek oor die afwysing van ’n aansoek ingevolge artikel 342A van die Strafproseswet, wat voorsiening maak vir ’n ondersoek na vertragings in strafregtelike verrigtinge.

Magaboke Mohlatlole, NVG-woordvoerder, sê Jordaan, Grown Hluyovoormalige ,Safa-hoof- finansiële beampte, Trevor Neethling, voormalige joernalis en direkteur van Grit Communications, en Russell Paul, voormalige waarnemende Safa-hoof- uitvoerende beampte, staan tereg op aanklagte van onder meer bedrog van meer as R1 miljoen, diefstal en sameswering om bedrog en diefstal te pleeg.

Die staat beweer Jordaan het in Desember 2017 ’n ooreenkoms tussen Safa en Grit Communications vir openbare betrekkinge en kommunikasiedienste onregmatig onderteken en teruggedateer sonder dat die vereiste goedkeuringsprosesse gevolg is. Verder word beweer dat die ooreenkoms daarop gemik was om Jordaan se persoonlike beeld te bevorder en beskerm, terwyl veiligheidsdienste ook vir sy persoonlike voordeel bekom is onder die voorwendsel dat dit deel van Safa se sakebedrywighede was. Die staat beweer Hluyo het betalings aan Grit Communications en ’n veiligheidsmaatskappy gemagtig, ondanks sy beweerde kennis dat die ooreenkomste ongemagtig en onwettig was. Paul word daarvan beskuldig dat hy met die ander beskuldigdes saamgespan het rondom beweerde bedrog en diefstal.

Die NVG sê hy is gereed om met die saak voort te gaan en sal die uitslag van die hooggeregshof-hersieningsaansoek afwag.