WES-KAAP. – Die Kaap die Goeie Hoop-DBV waarsku diere-eienaars om voorbereidings te tref vir erge donderstorms wat vandag (Woensdag) in Kaapstad en dele van die Wes-Kaap verwag word. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het ’n geel vlak 2-waarskuwing vir erge donderstorms uitgereik, met moontlike hael, swaar weerlig en rukwinde van tussen 40 en 55 km/h.
Die DBV doen ’n beroep op eienaars om diere waar moontlik veilig, droog en beskut binnenshuis te hou, weg van die geraas van die storm.
Heinings en hekke moet nagegaan word, aangesien bang diere kan probeer ontsnap. Diere moenie vasgeketting of sonder voldoende skuiling gelaat word nie, terwyl plaasdiere ook teen oorstromings en weerlig beskerm moet word. Die publiek word verder versoek om op diere in hul gemeenskappe te let wat tydens die gure weer aan die elemente blootgestel kan wees.