JOHANNESBURG – kykNET se epiese realiteits-TV-reeks, Die Brug, keer terug vir ‘n nuwe en groter tweede seisoen. Die program daag deelnemers uit om ‘n brug van die oewer na ‘n eiland te bou, waar ‘n skatkis met R1 m. kontant wag. Hierdie uitdaging moet binne minder as 20 dae voltooi word.
Maar dit is nie net die fisiese bouwerk wat saak maak nie; spelers moet ook hul sosiale vaardighede en stamina bewys. Hulle moet mede-deelnemers oortuig om oor die brug te loop en die prysgeld te eis, en dis waar strategie en breinkrag inkom.
Na die groot sukses van die eerste seisoen, wat vir deelnemer Avril Albetti ‘n benoeming vir Persoonlikheid van die Jaar by die Silwerskerm-toekennings beteken het, is kykNET opgewonde om seisoen 2 aan te bied. Volgens Waldimar Pelser, hoof van kykNET-kanale by Multichoice, sal die tweede seisoen nuwe uitdagings en verrassings bring.
Kykers kan tot en met 31 Augustus aanlyn inskryf by kykNET. Seisoen 2 van Die Brug sal vroeg in 2025 op kykNET uitgesaai word.





