Dodetal in botsing op N2 styg tot vyf

Lees ook :

Foto: Burgemeester Grant Riddles

WES-KAAP. – Die dodetal in die kop-aan-kop-botsing tussen ‘n private vervoerbussie van Potgieter Passasiers Vervoer op Oudtshoorn en ‘n sportnutsvoertuig (SUV) op die N2 buite Heidelberg het tot vyf gestyg. Nog twee beseerdes, 13 en 20 jaar oud, het intusen aan hul beserings beswyk.

AO Christopher Spies, polisiewoordvoerder, sê aan Nuusflits die ongeluk het Dinsdagoggend omstreeks 09:30 plaasgevind. Met aankoms op die toneel het die polisie ‘n Toyota-bussie en ‘n SUV aangetref wat reg van voor teen mekaar gebots het. Drie insittendes van die SUV, twee vroue en ‘n man, is op die toneel dood verklaar. Nog twee insittendes, ‘n 13-jarige meisie en ‘n 20-jarige man, is met ernstige beserings na hospitale in Kaapstad en Riversdal vervoer. Die meisie is Dinsdagaand oorlede, terwyl die man Woensdagoggend aan sy beserings beswyk het. 10 insittendes van die vervoerbussie het ernstige beserings opgedoen en is vir behandeling na nabygeleë mediese fasiliteite vervoer.

Voorlopige ondersoeke dui daarop dat die bussie in die rigting van Swellendam onderweg was, terwyl die SUV uit die teenoorgestelde rigting gekom het toe die botsing plaasgevind het. Die Heidelberg-polisie ondersoek ‘n saak van strafbare manslag. Die ondersoek duur voort.

Grant Riddles, die uitvoerende burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit, sê: “Ons harte gaan uit na almal wat geraak is deur die tragiese ongeluk op die N2 buite Heidelberg. Ons bid vir God se vertroosting vir die families wat geliefdes verloor het, asook vir spoedige herstel vir almal wat beseer is. ‘n Opregte woord van dank aan al die rolspelers – die nooddienste, verkeersbeamptes, SAPD, mediese personeel en elke persoon wat vandag sonder huiwering gehelp het. Julle toewyding en diens in moeilike omstandighede word opreg waardeer. Hessequa Familie dra asseblief die families in u gebede op.”

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief