Dogter en seun op toneel van beweerde padwoede waar pa sterf

Lees ook :

Foto: Skermgrepe van video-opname soos versprei deur Ground Zero Search and Rescue

GAUTENG. – ’n Voorval van beweerde padwoede in Emmerentia het Sondagmiddag tragies geëindig toe een man dood is en twee ander in ’n konfrontasie beseer is. ‘n Video wys waar die oorledene, aanvanklik steeds lewend, op die padoppervlak lê en ‘n jong meisie histeries huil en rondbeweeg, totdat ‘n omstander haar in hul gesinsvoertuig plaas. Dieselfde omstander het daarna ook die jong seun, wat by sy pa met sy hande op sy lyf gesit het, asof hy KPR wou toepas, met sy bebloede hande by sy sussie in die motor gesit.

Kol. Dimakatso Nevhuhulwi sê die situasie het glo begin met ’n woordewisseling wat in ’n fisieke bakleiery ontaard het. ’n Vroulike passasier, vermoedelik die eggenote van een van die mans, het na bewering ’n vuurwapen uit ’n voertuig gaan haal, waarna die ander bestuurder ook ’n vuurwapen uitgehaal het. Skote is geskiet en die een man is op die toneel dood, terwyl die ander bestuurder lig beseer is en die vrou met ’n skietwond hospitaal toe geneem is. Die 58-jarige bestuurder is in hegtenis geneem en sal in aanhouding bly totdat hy na verwagting môre (Dinsdag) in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Weens die tragiese aard van die voorval en die feit dat die oorledene duidelik in die beeldmateriaal gesien kan word, word slegs gesensorde skermskote uit die video geplaas, alhoewel dit op sosiale media versprei word. In die video kan gesien word hoe die vermeende skieter aanvanklik met die vuurwapen by sy voete op die teeroppervlak staan. Later in die opname sit hy op die randsteen en praat op ‘n selfoon. ‘n Veiligheidwag staan wydsbeen oor die vuurwapen terwyl die toneel afgekordon word.

Die omstander, besorg oor die kinders, het ‘n selfoon uit die voertuig na die duidelik beseerde vrou, wat ‘n entjie weg van die man gesit het, geneem en vir haar gesê waar die kinders is. Op die ma, wat ‘n skietwond aan haar linkerhand opgedoen het, se aandrang het die omstander die kinders die voertuig se deure laat sluit. Hy stel die kinders deurentyd gerus dat die polisie onderweg is. Aan die begin en verder in die opname sê die omstander duidelik hy het die skietery gesien gebeur.

Die polisie ondersoek sake van moord en poging tot moord. Motoriste word weer eens versoek om kalm te bly en verkeersreëls te gehoorsaam om sulke voorvalle te voorkom.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief