MPUMALANGA. – Brig. Danie Hall bevestig alle saakdossiere en sensitiewe inligting is veilig, ondanks ‘n inbraak by die Valke se Enhlanzeni-distrikskantoor.
Luidens ‘n verklaring van Valke-woordvoerder, lt.kol. Magonseni Nkosi, het verdagtes Woensdagnag toegang tot die kantore verkry deur ‘n venster oop te forseer. Enkele los items, waaronder ’n rekenaarskerm en ’n projektor, is gesteel.
Hall, die waarnemende provinsiale hoof van die Valke, het die gemeenskap, pandjieswinkels en herwinningsentrums versoek om nie die gesteelde items te koop nie en gevra dat enige pogings om die gesteelde items te verkoop by die polisie aangemeld moet word.





