Die fliekverwerking van Colleen Hoover se topverkoper roman It Ends With Us open eerskomende Vrydag 16 Augustus in rolprentteaters, maar ten spyte van die aanvanklike optimisme oor die fliek, word die produksie, wat deur Blake Lively gelei word, nou omgewe deur ongewenste kontroversie.
Soos met Olivia Wilde se Don’t Worry Darling loop die fliek ook deur onder negatiewe publisiteit en samesweringsteorieë. Dit nadat gerugte ontstaan het oor ‘n skeuring tussen Lively en die fliek se regisseur en mede-akteur, Justin Baldoni. Baldoni was opvallend afwesig tydens die fliek se mediatoer, en die res van die rolverdeling het opgehou om hom op Instagram te volg.
Volgens The Hollywood Reporter het spanning tussen Lively en Baldoni tydens post-produksie ontstaan, toe twee verskillende weergawes van die fliek vervaardig is. Lively het ‘n groot rol gespeel in die kreatiewe skeppingsproses van die fliek, insluitend die herskryf van sekere tonele. Daar is selfs sprake dat haar man, Ryan Reynolds, betrokke was by die herskryf van ‘n sleuteltoneel, wat moontlik tot verdere spanning bygedra het.
Hoewel geen van die betrokke partye sover amptelik kommentaar gelewer het nie, lyk dit of die vermeende vete nog momentum opbou. Maar, of die gerugte waar is of nie, die fliek het alreeds $23 m. in die eerste naweek verdien.
Lees ook: https://nuusflits.com/langverwagte-blake-lively-fliek-open-vrydag-in-fliekteaters/