‘Drankverslawing is onlogies, onverstaanbaar, crazy’ sê boek oor die voorkombare verwoesting van alkoholafhanklikheid

Lees ook :

Deur Le Roux Schoeman vir Kerkbode

Alkohol is ’n dwelm, vertel die verslawingspesialis Willie Pienaar. “Elke babelas is ’n mini-onttrekking. As jy een of twee het in jou lewe is dit orraait, maar as jy gereeld babbelas het, dan werk jy aan jou verslawing.” Kerkbode het met hom gaan gesels oor afhanklikheid, nugterheid en die boek wat hy glo ’n brug slaan tussen die twee. 

’n Magdom mediese studente by Maties sal hom aan sy stem ken wat al sedert 1980 in lesingsale opklink. Nog meer sal hom ken as skrywer van bydraes soos hierdie hoofstuk in Universiteit Stellenbosch se Handboek vir Psigiatrie: Somatoforme steurings, malingering, faktiewe steuring en psigosomatiese steurings. Binne die sale van Stikland sal nog ander hom ken as bondgenoot in die stryd teen verslawing. In owerheidsgeledere sal die naam dalk herinner aan ’n breër stryd in die samelewing tussen waar alkoholafhanklikes “tuishoort” – onder die maatskaplike of psigiatriese dak … Ook daai fight het Willie Pienaar in sy lang loopbaan ge-fight. “Dit is korrek dat gesondheids-dienste kyk na afhanklikheid,” sê die skrywer van ’n nuwe boek wat op die mees toeganklike wyse haalbaar ’n gids probeer bied vir ’n reis waarlangs vele – oud en jonk – jaarliks in Suid-Afrika en die wêreld sterf, naamlik die pad na “vryheid van verslawing”.

LEES OOK | SOBER-Ressensie Feite oor verslawing met groot kundigheid toegelig

Die boek heet Sober (Lapa-Uitgewers) en hoewel daar twaalf hoofstukke is, is dit nie eksplisiet ’n wegwyser na die kamers van Alkoholiste Anoniem (AA) en die Twaalfstap-gemeenskap waar soveel alkoholiste wêreldwyd ondersteuning vind nie. 

“Soberheid is moeilik, maar moontlik,” is een van Willie Pienaar se mantras. Nog een is: Alkohol smaak nie so lekker nie, hy maak so lekker. Hy brei uit: Dis ‘n etter, ou maat. Daai effek van alkohol. Hy vat die angs weg, die hartseer, hy vat die skuld wat ophoop weg, hy vat die kwaad weg, hy gee vir jou weer daai losraak, die wegkomslag.

Pienaar, ’n emeritusprofessor wat vanjaar 74 word en in Bellville woon, is wel ’n groot ondersteuner van AA en vol lof vir dié en ander benaderings tot die verskynsel van magteloosheid teenoor drank. En, nes AA se medestiger Bill W, meen Pienaar deel van die oplossing tot spirits, is spiritual. Pienaar maak verder die punt dat alkoholafhanklikheid op ’n spektrum lê en dat vele mense betyds kan remme aanslaan voor die siekte ’n houvas op hulle liggaam en gees kry. Laasgenoemde dra egter by tot sy sin van erns met hierdie boek, eerder as wat dit bedoel is om mense op hulle gemak te stel. “Ek was so bewus dat daar derduisende mense is wat smag na daai kennis (oor alkoholverslawing). Soveel predikante, terapeute, dokters. Ek het met my opleiding as dokter nie daai kennis gehad nie. Ek het niks geweet nie! Uit ondervinding en self leer, moes ek dit opdoen. En so baie GP’s het min geweet daarvan. GP’s voel dikwels  ongemaklik met die behandeling van pasiënte met ’n onderliggende alkoholprobleem. Toe dink ek, maar skryf die boek sodat die meeste mense dit kan vat en verstaan,” vertel Pienaar.

LEES OOK: Kerke in stukkende gemeenskappe: ‘Ons kan regtig nie meer net praat nie’ – Nioma Venter

So, die een groep lê aan die intreekant van die spektrum en kan uitklim as die gevaarligte betyds by hulle registreer. Ander moet verder gaan. Pienaar sê: “’n Persentasie van mense sterf (aan alkoholafhanklikheid), wat nooit hierdie siekte klop nie. En die groot hoop is, demmit broer, jy kan dit darem een dag op ’n slag klop,” sê hy op sy innemende manier van praat wat ’n driftigheid insluit wat ’n mens dalk nie verwag by iemand wat al ’n jaar of wat sy aftrede in is nie. Jy sou jou misgis. Hoewel hy hier in sy groot jaart timmer aan sy houtwerkprojekte (’n uilhok wat presies gemeet word om meer as 4 m bo die grond te staan, kindertelrame wat hy vir ’n kerkprojek aan ’t ontwerp en bou is en allerlei worse wat hy in sy vleiskamer stop) is Willie Pienaar steeds besiel met die ding wat sy CV oorheers en hom 46 jaar as klinikus geboei het: die mens en drank.

“Jy het nie ’n idee wat die krag is om die ontvlugting en intoksikasie te soek nie. Hoe kragtig daai stimulus is nie. Dis onlogies, dis onverstaanbaar, dis crazy. Jy sê vir die man, jy’s gesond, jy’s talentvol, jy het alles …” Pienaar dwaal af … Die menige terapeutiese doodloopstrate – hoewel daar ook hordes deurbrake en suksesse was – is duidelik nog met hom in die gemoed. “Motivering begin die dag wat jy op jou knieë val en sê ek is magteloos teen alkohol,” sê hy, weer terug in die soort folksy trant van ouer, raadgewende oom, eerder as afstandige dosent.

’n Siekte wat lekker maak

Die boek is helder en logies. Hoofstuk 6: ’n Siekte soos enige ander siekte. Hoofstuk 7: Wanneer flikker die gevaarligte? Pienaar skud die hogere taal van die akademie af met die energie van ’n kolliehond wat uit koue water spring. “Soberheid is moeilik, maar moontlik,” is een van sy mantras. Nog een is: Alkohol smaak nie so lekker nie, hy maak so lekker. Hy brei uit: “Dis ’n etter, ou maat. Daai effek van alkohol. Hy vat die angs weg, die hartseer, hy vat die skuld wat ophoop weg, hy vat die kwaad weg, hy gee vir jou weer daai losraak, die wegkomslag. En omdat alkohol so lekker werk, kan jy sien hoe hardloop die sneeubal teen die heuwel af. Dis ’n wonderlike gemoedstabiliseerder. Hy werk vir jou anders as vir my, maar hy vat selfs moegheid weg,” vertel Pienaar.

LEES DIE RES VAN DIE ARTIKEL OP KERKBODE HIER


Nuusflits publiseer advertensies en geborgde inhoud vir bemarkingsdoeleindes. Die sienings en aansprake wat in advertensies geuiter word, weerspieël nie die standpunte van Nuusflits, sy redaksie, of enige van sy affiliasies nie.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief