Dreigement en gebreekte glas op eerste Grindr-afspraak

Lees ook :

Afspraak-toeps soos TinderBumbleHinge en Grindr het aanvanklik ontstaan om mense in ’n digitale wêreld aan mekaar voor te stel, met die oog op persoonlike ontmoetings. 

Vir sommige lesers van Nuusflits het van dié platforms nou ’n gevaarlike ruimte geword. Onder die LGBTQIA+ gemeenskap word die toep Grindr gereeld gebruik. Dié toep bied spesifiek ’n ruimte vir mense wat as LGBTQIA+ identifiseer om mekaar aanlyn te ontmoet en dan later van aangesig tot aangesig. 

Onaangename ervaring

Een van Nuusflits se lesers is die skrik op die lyf gejaag nadat hy ’n onaangename ervaring op die toep gehad het. Anton (*skuilnaam om sy identiteit te beskerm) vertel aan Nuusflits spesifiek homoseksuele mans is dikwels die teiken van kriminele aktiwiteite en word onder vals voorwendsels na ’n afspraak gelok. “Homoseksuele mans is veral weerloos, ervaar ek,” vertel hy.

Na die verbreking van ’n verhouding het Anton hom tot Grindr gewend om nuwe vriende te maak. “Dit was nie net ’n manier om geselskap te vind nie, maar ek het baie ontbloot gevoel. Ek het mense gesoek wat soos ek dink en soos ek is. Ek het ook gesoek na ondersteuning.”

Gesels lekker en ontmoet

Anton het ’n persoon aanlyn ontmoet en hulle het lekker gesels. Na ’n week het die persoon hom sy WhatsApp-nommer gegee om eerder daar te gesels. “Ek het die nommer op True Caller ingesit om te kyk of die persoon is wie hy sê hy is. Ek het ’n ander naam gekry en dit het my agterdogtig gemaak. Ek het besluit om eerder slegs op die toep te praat en nie myself bloot te stel deur op WhatsApp te praat nie.”

Kort daarna het hulle afgespreek om mekaar te ontmoet. “Ek het gereël dat ons mekaar by ’n openbare kroeg ontmoet, waar ek veilig sou voel.” Dit was ’n wyse besluit, want die ontmoeting het toe vinnig in ’n nagmerrie ontaard, vertel hy.

“Ek het dadelik besef die persoon is glad nie wie hy voorgegee het hy is nie. Ek is ge’catfish’. Hy het sommer begin praat oor ’n verhouding. Dis nie iets wat jy op die eerste afspraak bespreek nie!”

Raak jaloers en dreigend

Een van Anton se vriende het by die kroeg opgedaag. Anton se afspraak het só jaloers geraak, hy het ’n glas stukkend gegooi. “Hy het dadelik jammer gesê, maar toe gefluister as ek sy kêrel word, sal hy seker maak dat ek geen vriende het nie, anders sal hy hulle ’n les leer.”

Dié dreigement het Anton vreesbevange gehad. “Ek het gemaak of ek nog ’n drankie wil bestel en het opgestaan kroeg toe. Ek het vir die kroegman verduidelik wat aangaan en hy het die persoon besig gehou terwyl ek by die kombuisarea uitgeglip het om weg te kom. Daarna het ek my profiel van die toep verwyder en nooit weer teruggegaan na dit nie!”

Hy sê die ervaring het hom getraumatiseer.

Beskerm jou teen swendelaars

Nuusflits het ’n navraag aan Grindr gestuur oor hoe dié toep hulle verbruikers beskerm. Op die webtuiste van Grindr verwys die maatskappy na ’n volledige dokument, die Holistic Security Guide, wat verbruikers raad gee oor hoe om hulleself teen swendelaars te beskerm.

 Wenke sluit in:

  • Gebruik ‘n ander naam: vermy die gebruik van dieselfde naam as op ander sosialemediatoepassings.
  • Aparte kontakinligting: gee ‘n ander telefoonnommer en e-posadres as wat jy gewoonlik gebruik.
  • Vermy sosialemedia-aanmeldings: moenie deur sosiale media koppel of aanmeld nie. Indien nodig, gebruik ‘n aparte rekening.
  • Beperk die deel van telefoonnommers: gee slegs ‘n telefoonnommer indien dit absoluut noodsaaklik is.
  • Wees versigtig met persoonlike inligting: moenie persoonlike inligting, foto’s of video’s deel wat jy nie met vreemdelinge sal deel nie.
  • Beveilig jou internetverbinding: vermy die gebruik van openbare Wi-Fi. Gebruik ‘n VPN indien nodig.
  • Hou sagteware opgedateer: gereelde opdaterings beskerm teen sekuriteitsbedreigings.
  • Aktiveer afstanduitvee: maak seker dat jy jou slimfoon op’n afstand kan uitvee as dit verloor of gesteel word.
  • Beskerm sensitiewe media: stoor sensitiewe foto’s of video’s veilig in privaat galerye of toepassings soos Photo Vault.
  • Gebruik app-sekuriteit: beveilig die toep met ‘n PIN en gebruik die diskrete app-ikoon-kenmerk.
  • Deaktiveer jou ligging: deaktiveer “wys ligging” in jou profiel om versteek te bly in gevaarlike omgewings.
  • Agtergrondkontrole: doen navorsing oor jou aanlyn afspraak of deur gemeenskaplike kontakte voor jy ontmoet.
  • Ontmoet in openbare plekke: kies veilige, openbare plekke vir eerste ontmoetings.
  • Lig ‘n vriend in: laat iemand weet waarheen jy gaan en hê ‘n noodplan.
  • Vee jou oon uit voordat jy ontmoet: vee seksuele gesprekke, beelde en video’s uit voordat jy vreemdelinge ontmoet.
  • Vermy oormatige alkolhol: beperk alkoholgebruik sodat jy in beheer bly. 

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief