OOS-KAAP. – Drie polisiebeamptes is kort ná middernag (Donderdag) in ‘n woning in 21 Rudmansraat, Kariega, in ‘n skietvoorval dood. Dit was glo slegs die drie konstabels wat in die voorval betrokke was. Hulle is as konst. Riaan Van Heerden (48) – Gqeberha Blitspatrollie, konst. Stach Jantjies (vrou – 22) KwaNobuhle SAPD en konst. Cerwynn Williams (24) van Kariega SAPD geïdentifiseer.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder vir die provinsie, sê beamptes het voor 01:00 na die toneel gegaan nadat lede van die publiek dit gerapporteer het. Met hul aankoms het hulle drie konstabels met veelvuldige skietwonde aangetref. Twee van die polisiebeamptes is op die toneel dood verklaar, terwyl die derde later in die Cuyler-hospitaal gesterf het. Hul name sal bekend gemaak word sodra hul naasbestaandes ingelig is.
Voorlopige inligting dui daarop dat ’n manlike konstabel, glo die voormalige kêrel van ’n vroulike konstabel, toegang tot die huis verkry het waar sy en nog ’n manlike kollega was. ’n Staatsdiensvuurwapen en 10 lewendige rondtes is op die toneel gevind. Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat ondersoek die voorval, terwyl die polisie ook ’n interne ondersoek van stapel gestuur het.
Gantana sê lt.genl. Vuyisile Ncata, die provinsiale polisiekommissaris, het sy medelye met die families en kollegas van die oorledenes betuig en gesê berading word aan lede gebied wat deur die voorval geraak word. Geen verdere inligting is verskaf nie omdat dit die ondersoek kan belemmer.





