Drie skuldig aan moord op Britse plantkundiges

Lees ook :

Foto: Pacific Bulb Society

KWAZULU-NATAL. – Die Durban-hooggeregshof het drie beskuldigdes skuldig bevind aan die ontvoering, roof en moord op twee bekende Britse plantkundiges. Die saak spruit uit die verdwyning en moord op dr. Rodney Saunders en dr. Rachel Saunders tussen 8 en 14 Februarie 2018 in die Ngoyawoud in Zululand.

Natasha Ramkisson-Kara, NVG-woordvoerder, sê Fatima Bibi Patel, Sayefudeen Aslam Del Vecchio en Musa Jackson is skuldig bevind aan ontvoering, roof met verswarende omstandighede, diefstal en twee aanklagte van moord. Del Vecchio is ook skuldig bevind aan kwaadwillige saakbeskadiging. Die egpaar het kort voor hul besoek aan die woud ’n dokumentêr vir die BBC in die Drakensberge voltooi. Hulle het op 8 Februarie 2018 die Ngoyawoud binnegegaan op soek na skaars sade en was met toerusting en kampbenodigdhede onderweg toe hulle deur die beskuldigdes oorval is.

Die paartjie is ontvoer en van hul besittings beroof. Daarna het die beskuldigdes toegang tot hul selfone se banktoepassings verkry en meer as R700 000 deur verskeie transaksies en kontantonttrekkings gesteel. Die Saunders-egpaar is later vermoor en hul liggame is sowat ’n week later op die oewers van die Tugelarivier gevind.

Wat die aanklag van kwaadwillige saakbeskadiging betref, het die hof bevind dat Del Vecchio in September 2017 drie plase van Tongaat Hulett tussen Sibaya Casino en Umdloti aan die brand gesteek het nadat hy toegang tot die plase geweier is. Die brande het groot skade aan suikerrietgewasse veroorsaak, met verliese wat op sowat R2,3 miljoen beraam word.

Die saak is vir vonnisoplegging tot 19 Junie uitgestel. Al drie beskuldigdes bly in aanhouding.

FiND iT het voorheen berig die egpaar was wêreldbekende plantkundiges. Dr. Rachel Saunders was ‘n mikrobioloog en Rodney ‘n tuinboukundige wat reeds 30 jaar getroud was. Hulle het vir ses maande per jaar in afgeleë Suid-Afrikaanse berge deurgebring, waar hulle op soek was na Gladioli-plantsade.

Op 8 Februarie 2018 het hulle vir ‘n werknemer gesê dat hulle op pad is na die Ngoye-woudreservaat wat noord van Durban geleë is. Daar is egter nie weer enigiets van hulle gehoor nie. Op 10 Februarie is alarm gemaak, waarna owerhede hulle as “ontvoer” gesoek het.

Tydens die polisie se ondersoek is die drie beskuldigdes, genaamd Sayfudeen Aslam Del Vecchio, Bibi Fatima Patel, sy vrou en Mussa Ahmed Jackson, ‘n Malawiër, van die egpaar se wrede roof en moord beskuldig. In die Ngoye-woud is hulle deur die beskuldigdes as teikens gemerk waarna hulle ontvoer en brutaal vermoor is. Daar is vasgestel dat kontant ter waarde van R734 000 op 13 Februarie van ‘n OTM onttrek is. Die egpaar se kredietkaarte is ook vir inkope gebruik. Hulle Toyota Land Cruiser en kamptoerusting is ook gesteel. Na bewering het die beskuldigdes die Saunders-egpaar tussen 10 en 15 Februarie vermoor.

Die Valke het die selfone van die oorledenes met selfone van die drie beskuldigdes verbind, waarna hulle in hegtenis geneem is. Tydens hul ondersoek is ISIS-pamflette en vlae in hul huis gevind met verskeie inkriminerende boodskappe op hul selfone wat ‘n boodskap op gehad het wat sê dat daar ‘n paar in die woud is wat ‘n “goeie jag” sal maak. Jackson het op 23 Maart getuig dat hy na bewering op 10 Februarie deur Patel wakker gemaak is en aangesê is om Del Vecchio op die pad te ontmoet. Del Vehcchio was glo in die egpaar se Land Cruiser en Patel en Jackson het hom gevolg na die Tugela-rivierbrug waar hulle hom gehelp het om slaapsakke met die Saunders-egpaar se liggame in die rivier vol krokodille te gooi.

Op 19 Februarie is die Land Cruiser met bloed, wat later as dr. Saunders se bloed geïdentifiseer is, gevind. Hulle erg ontbinde liggame is dae later in die Tugela-rivier naby Eshowe gevind, maar dit het maande geduur om hul erg onbinde liggame deur DNS-toetsing te identifiseer, waarna dit by onopgeëisde liggame wat gestoor was, gevind is. Nadoodse ondersoeke is op beide liggame uitgevoer om die oorsaak van hul dood te probeer vasstel. ‘n Dokter het aan die hof gesê dat ondersoek van die liggame bewyse van “aasdieraktiwiteit” toon, wat nie die moontlikheid uitsluit dat iets aan hul gevreet het nie. ‘n Krokodil is as voorbeeld gebruik omdat daar verlore weefsel aan hul arms, nek en bors was. Sou hul liggame by die rivierbanke gestort gewees het, kon honde en rotte ook aan hul gevreet het, is aangevoer. Die oorsaak van hul dood is as stomp-voorwerp-traumabesering geïdentifiseer.

Die beskuldigdes het die klagtes van ontvoering, moord, roof en diefstal in die Hooggeregshof in Durban ontken.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief