LIMPOPO. – ‘n Ma en haar kinders wou glo Saterdag na die anderkant van die N1 buite Bela-Bela gaan waar haar man deur ‘n polisiebeampte raakgery en oorlede is. Dr. Aaron Motsoaledi, die Minister van Gesondheid, se amptelike staatsvoertuig het glo die ma en kinders getref, waarna die ma en haar baba gesterf het.
Volgens die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Athlenda Mathe, is ‘n ondersoek na die twee afsonderlike ongelukke van dieselfde gesin geloods. Die man het gesterf toe ‘n polisiebeampte wat van diens af was, hom glo raakgery het. Voorlopige bevindings dui aan dat die vrou en haar kinders na bewering die pad na die man toe wou oorsteek toe hulle deur die minister se voertuig getref is. Die ma en die baba wat op haar rug vasgemaak was, is noodlottig beseer. Soos protokol vereis, het die minister, sy veiligheidsbeampte en die bestuurder onmiddellik ná die botsing stilgehou en op die toneel gebly totdat nooddienste en die polisie opgedaag het. Verklarings is van getuies en betrokkenes geneem.
Twee sake van strafbare manslag en die omstandighede daarvan word ondersoek. Die Onafhanklike Polisie Ondersoekdirektoraat het die ondersoek oorgeneem aangesien albei die bestuurders polisiebeamptes is. Mathe sê die SAPD het sy medelye met die oorledenes se familie uitgespreek.





