KWAZULU-NATAL. – Drie verdagtes tussen 34 en 44 jaar oud sal na verwagting vandag (Vrydag) op ‘n aanklag van moord in die Ladysmith-landdroshof verskyn. Thulani Bongani Kunene (37), wat sedert 21 Oktober vermis was, is dood aangetref.
Volgens sers. Thenjiswa Ngcobo, polisiewoordvoerder, is die drie verdagtes werknemers van ’n private veiligheidsmaatskappy wat volgens die polisie nie by die Reguleringsowerheid vir die Privaatveiligheidsbedryf (Psira) geregistreer was nie. Die ondersoek na die man se verdwyning het gelei tot die eerste verdagte se inhegtenisneming op 28 Oktober. Twee ander verdagtes is die volgende dag aangekeer.
Ngcobo sê voorts die ondersoek het aan die lig gebring dat die man na die perseel geneem is waar hy vermoor is. Die verdagtes het speurders na ’n vlak graf gewys waar die liggaam begrawe is.
Kunene is deur Northern Natal News geïdentifiseer. Volgens die berig ondersoek die polsie tans of daar meer liggame op die perseel in Burmastraat, Ladysmith, begrawe is.