’n Motoris is in hegtenis geneem nadat hy glo onder die invloed van alkohol met ’n gemerkte Metropolisievoertuig op die N2 in Kaapstad gebots het.
Die voorval het Maandagoggend omstreeks 00:30 plaasgevind terwyl Metropolisiebeamptes in die rigting van Somerset-Wes gepatrolleer het, het die Stad Kaapstad gesê.
Volgens die Stad het die beamptes ’n wit Volkswagen teen hoë spoed van agter sien naderkom. Dit het gelyk of die bestuurder beheer verloor het voordat die voertuig na die regterkant van die pad geswenk en die veiligheidsversperring getref het.
Die Volkswagen het daarna skerp teruggeswenk en teen die voorkant van die gemerkte Metropolisievoertuig gebots.
Beamptes het versterking ontbied en albei bestuurders is op die toneel vir alkoholgebruik getoets. Volgens die Stad was die Volkswagen-bestuurder se asemtoetslesing meer as dubbel die wettige perk.
Hy is in hegtenis geneem op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur en bestuur onder die invloed van alkohol.
Beampte lig beseer
Supt. Ruth Solomons, woordvoerder van die Metropolisie, het gesê niemand is ernstig beseer nie. ’n Beampte is op die toneel vir ’n geringe kniebesering behandel.
“Die voorval dien as ’n ernstige herinnering aan die gevare van bestuur onder die invloed van alkohol. Roekelose besluite agter die stuur stel nie net die bestuurder in gevaar nie, maar ook onskuldige padgebruikers en wetstoepassers,” het sy gesê.
Meer as 130 vir dronkbestuur in Kaapstad vasgetrek
Volgens die Stad was die motoris een van 133 mense wat die afgelope week deur sy wetstoepassingsagentskappe weens dronkbestuur in hegtenis geneem is.
Metropolisiebeamptes het gedurende die week altesaam 123 mense vir verskeie oortredings in hegtenis geneem en 7 136 boetes uitgereik.
Nege gesteelde of gekaapte voertuie, drie vuurwapens, drie nagemaakte vuurwapens, 120 rondtes ammunisie en verskeie hoeveelhede dwelms is ook teruggevind.
Verkeersbeamptes het 101 mense in hegtenis geneem, waarvan 94 met dronkbestuur verband gehou het. Vier mense is vir roekelose en nalatige bestuur aangekeer en drie op ander aanklagte.
Hulle het ook 2 727 lasbriewe uitgevoer, op 116 openbarevervoervoertuie beslag gelê en 57 228 boetes uitgereik.
Duisende noodoproepe
Die Stad se Openbare Noodkommunikasiesentrum het 3 381 versoeke om hulp aangeteken. Dit het 156 voorvalle van fisieke aanranding, 91 gevalle van huishoudelike geweld en 108 ongelukke met motorvoertuie en voetgangers ingesluit.
Die sentrum het ook 564 klagtes oor geraas ontvang.
Inwoners kan voorvalle, noodgevalle en verdagte of kriminele aktiwiteite by 021 480 7700 aanmeld. Klagtes oor verordeninge en verkeer kan ook deur die veiligheidsfunksie op die City App aangemeld word.
Lees ook: Meer as 100 ‘dronkbestuurders’ vasgetrek – troue uitgestel ná bruidegom se inhegtenisneming
Lees ook: Beloning aangebied ná aanval op Kaapse verkeersbeamptes