KWAZULU-NATAL. – Die KwaZulu-Natalse departement van vervoer het die naweek ’n grootskaalse veldtog teen dronkbestuurders geloods, waartydens honderde motoriste van die paaie verwyder is. Een van die meer opvallende voorvalle het in Newcastle plaasgevind waar ’n troue op die laaste oomblik uitgestel moes word nadat die bruidegom en sy pa in hegtenis geneem is vir dronkbestuur. Altesaam 45 motoriste is daar in ’n enkele operasie vasgetrek.
Siboniso Duma, die LUR vir vervoer en menslike nedersettings, sê spesiale RTI-spanne het, ten spyte van swaar reën en storms in Pietermaritzburg, voortgegaan met padblokkades en wetstoepassing. In totaal is 116 bestuurders in hegtenis geneem omdat hulle onder die invloed van alkohol bestuur het. Inhegtenisnemings is regoor die provinsie gemaak, onder meer in Pietermaritzburg, Margate, Umzimkhulu, Kokstad en Newcastle. Die gearresteerdes sluit mense uit verskeie beroepe in, onder andere onderwysers, verpleegkundiges, ’n staatsrekenmeester, ’n forensiese beampte en selfs ’n metro-polisieman.
In een voorval het ’n eiendomsbestuurder glo probeer om omkoopgeld aan te bied in die vorm van ’n gratis woonstel vir ’n jaar nadat hy teen ’n snelheid van 206 km/h in ’n 120 km/h-sone op die N3 betrap is. Hy het boonop sonder ’n nommerplaat gery. In ’n ander voorval is ’n man vasgetrek nadat hy van Pinetown na Pietermaritzburg gery het terwyl hy glo onder die invloed was, met sy 12-jarige dogter in die voertuig. Nog ’n motoris, glo ‘n boer in Margate, het glo probeer om sy vrylating te “onderhandel” deur aan beamptes ’n skaap aan te bied.
Duma het ’n streng boodskap uitgestuur en gesê roekelose en dronkbestuurders sal sonder genade gearresteer word.





