WES-KAAP. – Ncubeko Hloni (22), wat as die “Dunoon-hondjieverkoper” bekendstaan, is tot direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig gepleit het op aanklagte van dieremishandeling, die ongemagtigde verkoop van diere en ontsnapping uit wettige aanhouding.
Volgens die Kaap die Goeie Hoop-DBV het Hloni op 2 September 2026 voor landdros Nemuhuyuni in die Kaapstad-Sentraal-landdroshof verskyn. Voormalige DBV-hoofinspekteur Jaco Pieterse was ook by die hofverrigtinge. Hloni is in totaal tot R9 000 se boetes of drie maande se gevangenisstraf vir elk van drie groepe aanklagte gevonnis. Die gevangenisstraf loop gelyktydig en omdat hy nie die boetes kon betaal nie, sal hy die termyn uitdien.
Die aanklagte spruit uit ’n voorval op 29 November 2025 toe Hloni na bewering ’n hondjie in Groenpunt probeer verkoop het. Volgens die DBV het hy tydens ’n worsteling probeer om die hondjie te verwurg, waarna die dier se been gebreek het. ’n Tweede hondjie is in sy toegeritsde rugsak gevind. Albei hondjies is deur ’n lid van die publiek na ’n veearts geneem en later in die DBV se sorg geplaas.
Hloni het ook uit aanhouding by die Seepunt-polisiekantoor ontsnap, maar is op 1 Desember 2025 deur inwoners van Dunoon herken en weer in hegtenis geneem.
Die DBV herinner die publiek daaraan dat die verkoop van diere sonder die nodige toestemming van die Stad Kaapstad onwettig is. Ongemagtigde diereverkope kan by 021 480 7700 aangemeld word.