NOORD-KAAP. – Vyf mynwerkers wat vermoedelik dood is ná ’n modderstorting ondergronds by die Ekapa-myn in Kimberley, het die stad geruk, terwyl die likwidasie van dié myn ’n verdere ekonomiese knou vir die stad beteken. Die werkers is sedert 17 Februarie tydens ‘n modderstorting, 890 meter diep, in die Du Toitspan-skag vasgekeer. Water, modder en klippe het reddingspogings bemoeilik.
Jahn Hohne, die hoof- uitvoerende beampte van Ekapa Minerals en Ekapa Resources, het Woensdag ‘n verklaring uitgereik waarin bevestig is dat die maatskappy aansoek doen om in likwidasie geplaas te word, weens finansiële druk ná die ramp, en markomstandighede. Dit sluit ook die sluiting van die Du Toitspan-myn in. Alle mynbedrywighede is gestaak. Beoordeling het bepaal dat die maatskappy nie meer volhoubaar kan voortgaan nie weens finansiële druk, vererger deur die wêreldwye diamantmark-terugval en die jongste tragedie.
Ondanks die sluiting en die proses om die maatskappy te likwideer, het die bestuur gesê dit sal steeds probeer om die liggame van die vasgekeerdes te herwin, sodra toegang veilig genoeg is. Spesialisreddings- en tegniese spanne werk steeds om modder en water uit die tonnels te pomp en die terrein veilig te maak.
Die sluiting van die Ekapa-myn beteken die einde van 158 jaar van ononderbroke diamantmynbou in Kimberley, ’n historiese era wat ekonomies en sosiaal diep in die stad se bestaan ingebed is. Vakbonde het kommer uitgespreek oor die uitwerking op werkers, vele van wie nog nie hul lone vir die maand ontvang het nie, asook oor die onsekerheid oor duisende direkte en indirekte werksgeleenthede wat nou op die spel is.
Wynand Boshoff van die Vryheidsfront Plus sê die tragedie en mynsluiting wys dat diamantmynbou nie meer dieselfde rol as voorheen in die Diamantstad speel nie. Volgens hom moet Kimberley nou besluit of dit homself as meer as net ’n diamantstad kan herposisioneer. Met sowat ’n duisend werknemers was eKapa lankal nie meer op die vlak van De Beers se gloriejare nie. Tog bly dit ’n groot werkgewer in ’n stad met hoë werkloosheid. Swak diamantpryse en mededinging van kunsmatige diamante maak heropening van die myn tans onwaarskynlik. Boshoff meen geleenthede lê in landbouverwerking, logistiek, sonenergie en die stad se rol as provinsiale hoofstad.
Die teenkant is vervalle infrastruktuur en die sukkelende Sol Plaatje-munisipaliteit. Hy sê Kimberley se geskiedenis is onlosmaaklik deel van die wêreld se diamantbedryf, maar die stad se toekoms sal deur sy inwoners bepaal word – of dit nou verval is of vernuwing.





