OOS-KAAP. – Manelisi William Nosasa (35) dien reeds ’n ses jaar lange vonnis uit vir ’n moord wat in 2015 plaasgevind het. Die Ngqeleni-distrikshof het hom Dinsdag nóg vier jaar tronkstraf opgelê vir ’n voorval in 2024 waarvoor hy aan moord en poging tot moord skuldig bevind is. Die voormalige polisieman, wat as hofordonnans by die Tsolo-landdroshof gewerk het, sal nou altesaam 10 jaar tronkstraf uitdien.
Lizzy Suping, Opod-woordvoerder, sê in ’n verklaring die jongste saak hou verband met ’n voorval op 16 Junie 2024 toe Nosasa glo sonder toestemming ’n gemerkte polisievoertuig geneem en na Ngqeleni in die Mthatha-omgewing gery het. Daar het hy twee vroulike voetgangers raakgery. Een vrou is op die toneel dood, terwyl die ander ernstige beserings opgedoen het. Hy het na bewering ná die voorval weggejaag, maar is later in hegtenis geneem.
Nosasa is ook vroeër vanjaar gevonnis vir die moord op Silindokuhle Bango (19) in Oktober 2015. Hy het Bango van diefstal van sy televisiestel beskuldig en hom aangerand, waarna Bango aan sy beserings beswyk het.





