Dit is ‘n somersdag op Springbok in die Noord-Kaap, maar vir Eugene Lennox wat sy seun, Nantes (20), wat in die VSA op ‘n plaas gewerk het en op die 13de Oktober in ‘n tragiese ongeluk dood is, is die boodskap duidelik.
“Die tragedie van Nantes se dood bring duisende mense wat ons van geen kant af ken nie by mekaar in hartseer, hoop en gebed. Sy dood was nie verniet nie.”
Daar is twee lesse wat Eugene voel uit hierdie boodskap moet kom: “Die genade van ons Skepper, want as dit nie daarvoor was nie sou ons nie nog regop gestaan het nie en in die tweede plek moet daar meer versigtigheid rondom mense en hul beroepe plaasvind om juis tragedies soos hierdie te probeer vermy”
Eugene wys geen vinger na die tragedie wat gebeur het nie en wens ook nie om eise in te stel nadat sy seun tragies gesterf het nie. Nantes het op ‘n plaas in die VSA gewerk.
Nantes was vir ‘n tweede keer in die VSA waar hy op plase gaan werk het en sou op 29 November huis toe kom. Hy kom steeds huis toe, maar op ‘n ander manier en die vraag is wanneer.
“Hulle het binne die sojaboonsilo gewerk en Nantes het glo sy harnas afgehaal wat hom gepla het. Toe die tragedie plaasvind, kon ‘n vriend waar hy ongeveer 50 cm onder die sojabone gelê het, deur ‘n PVC-pyp wat hulle gebruik om sojaboonblokkasies oop te maak, asem haal totdat hy later gered is.”
Alhoewel daar pogings was om Nantes se lewe te red, was hy te diep en hy het gesterf.
Sy hartseer familie wag tans dat ‘n doodsertifikaat uitgereik moet word sodat sy liggaam kan terugkeer na Springbok en hy ter ruste gelê kan word.
“Jy sal my nie glo nie. New York wag net vir ‘n dokument van Suid-Afrika wat deur ‘n persoon in Pretoria geteken moet word sodat Nantes huis toe kan kom.”
Eugene verduidelik dat Nantes se graf klaar gegrawe is en alle reëlings vir sy begrafnis in plek is.
Kyk jy so na die boodskappe van vriende en familie, het hierdie jongman ‘n positiewe impak op hulle gehad.
Hy het ‘n voorliefde vir sang gehad en daar is ‘n YouTube-kanaal waar van sy video’s gesien kan word.
Die Lennox-ouers het hul twee seuns volgens ou waardes grootgemaak en pa Eugene het hulle menige keer ná aandgodsdiens gewaarsku dat al dink jy niemand kyk nie, moet jy een keer ‘n dag stop waarmee jy besig is en kyk wie vir jou kyk. Want al het die gesin gedink net ‘n 100 of so mense weet van Nantes, het hulle ‘n verrassing gekry dat daar duisende mense is wat van hom notisie geneem het en dit is oorweldigend om die impak van sy dood te besef.
Eugene lag as hy sê sy seuns is rigied grootgemaak en dan hoe Nantes gehoorsaam sou wees, maar ook met ‘n plan sou werk. Hy verduidelik: “Daar is drie bane, en as my opdrag was bly in die middelste baan en moenie regs gaan nie, sou Nantes dink ek het niks van links gesê nie en gehoorsaam in die middel bly, maar ook die linkerkant probeer het.”
Broer Johannes sê hy gaan Nantes se musiek die heel meeste mis en dan vertel hy: “Nantes wou eendag ‘n klapper maak en dit moes agter die motorhuismuur gebeur. Die ding ontplof toe en die hele muur is swart. Ons moes daardie muur weer wit verf voordat pa die middag by die huis gekom het.”
Hy onthou met nostalgie dat hy baie keer vir ‘n onnutsige Nantes in die bresse moes tree.
“Niks wat ons sê of doen, kan die klong vir net een oomblik terugbring nie en ons glo vas in die Here se weë. Hy praat ‘n taal wat ons nie verstaan nie en werk in mysterious ways, maar Hy sal nie iets oor ons pad bring wat ons nie in Sy naam sal kan hanteer nie. My bek hang oop hoe hierdie tragedie mense bymekaar bring.”
FiND iT Nuus het navraag by DIRCO gedoen om vas te stel hoe reëlings verloop om Nantes na sy mense terug te bring.
FiND iT Nuus spreek hiermee medelye aan die besonderse familie en vriende uit.
Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus. As jy Afrikaanse Nuus op die Moya App wil lees, volg die skakel.





