NOORDWES. – Vyf Mexikane, twee Mosambiekers, een Zimbabwiër en drie Suid-Afrikaners het vanoggend op aanklagte van dwelmvervaardiging, die onwettige besit van edelmetale, die onwettige besit van gevaarlike stowwe en die oortreding van die immigrasiewet in die Swartruggens-landdroshof verskyn. Die saak is tot 22 Mei uitgestel vir tolke, immigrasiestatus-verifikasie en moontlike borgaansoeke. Die verdagtes bly in aanhouding. Die totale waarde van die onwettige laboratorium word op meer as R1 miljard geskat.
‘n Vermoedelike geheime dwelmfabriek met vermeende Mexikaanse bande is die middelpunt van ‘n grootskaalse polisie-operasie wat op 13 Mei in Swartruggens ontvou het. Dit is die vierde sodanige laboratorium wat tot dusver in Suid-Afrika ontdek is. Volgens die Valke se woordvoerder, kol. Katlego Mogale, het ‘n gesamentlike intelligensie-gedrewe operasie deur verskeie eenhede, insluitend die Valke se narkotikahandhawingsburo, tot die deurbraak gelei. Tonne chemikalieë en toerusting is op die perseel aangetref. Tot dusver is ongeveer 481 kilogram metamfetamien in beslag geneem met ‘n geskatte straatwaarde van miljoene rande. Hierdie hoeveelheid kan nog toeneem soos die misdaadtoneel verder deur forensiese deskundiges ondersoek word. Drie vuurwapens is ook tydens die operasie gevind.
Die eienaar van die betrokke eiendom is nog opgespoor nie, maar die eienaar se seun en ander familielede is onder die gearresteerdes. Die ondersoek duur voort.





