STRAATSBURG. – Die Europese Hof vir Menseregte het bevind dat die Suid-Afrikaanse atleet, Caster Semenya, se reg op ’n regverdige verhoor geskend is, weens die beperkte hersiening deur die Switserse Federale Hooggeregshof van ’n arbitrasietoekenning oor Wêreldatletiek se sogenaamde DSD- (differences of sexual development) regulasies.
Die hof het Semenya se klagte onder Artikel 6(1) van die Europese Konvensie vir Menseregte eenparig as toelaatbaar verklaar en met 15 stemme teen 2 bevind dat daar ’n oortreding was. Klagte ingevolge Artikels 8, 13 en 14 is as ontoelaatbaar verklaar.
Volgens die hof het Semenya se appèl teen die uitspraak van die Sportarbitrasiehof (CAS) ’n jurisdiksionele skakel met Switserland geskep, wat daardie staat verplig het om haar regte ingevolge Artikel 6 te beskerm. Die hof het bevind dat die Federale Hooggeregshof se beperkte interpretasie van openbare beleid nie aan die vereiste van ’n streng hersiening voldoen het nie.
Switserland is beveel om Semenya €80 000 in koste en uitgawes te betaal.
Die volledige verklaring kan hier verkry word.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by nuus@nuusflits.com





