Forum kla oor beweerde behandeling van 14-jarige outistiese meisie

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Commonwealth Disabled People’s Forum het ‘n formele klagte by Mr Price ingedien, nadat ‘n 14-jarige outistiese meisie na bewering verneder en uitgelag is toe sy hulp by een van die kettingwinkel se takke gevra het.

Dr. Emile Gouws, vir onderverteenwoordigde groepe by die forum, sê die klagte is namens die meisie se ma, Joha-Maine Andrianatos, ingedien. Volgens die brief het die voorval op 2 Julie by die Mr Price-winkel in Blue Crane Mall in Springs plaasgevind. Daar word beweer dat haar tienerdogter twee bottels Gulp Peach & Pine-gegeurde vonkelwater gekoop het, maar ná haar aankoop ontdek het dat die doppies nie wou oopdraai nie. Sy het glo drie verskillende mense om hulp gevra, maar niemand kon die bottels oopkry nie. Volgens die klagte het sy daarna na die winkel teruggekeer om hulp te vra. In plaas daarvan dat personeel haar met begrip en geduld bygestaan het, is sy na bewering uitgelag terwyl sy sigbaar verward en ontsteld was. Die bottels is eers vervang nadat ander mense bevestig het dat die doppies inderdaad nie oopgemaak kon word nie.

Die forum voer aan dat die voorval die tiener emosioneel erg geraak het en dat sy ook haar hand beseer het terwyl sy probeer het om die bottels oop te kry. Volgens die brief kan openbare vernedering ernstige en langdurige sielkundige gevolge vir ‘n outistiese jongmens hê. Die organisasie meen die voorval wek kommer oor hoe mense met gestremdhede en neurodivergente persone behandel word. Daar word aangevoer dat ondernemings ‘n verantwoordelikheid het om kliënte met waardigheid, respek en gelykheid te behandel. Die forum het Mr Price versoek om ‘n volledige ondersoek te doen, insluitend die hersiening van kringtelevisiebeeldmateriaal van die voorval. Daar word ook gevra vir ‘n skriftelike verskoning aan die meisie, opleiding vir personeel oor gestremdheidsbewustheid, asook ‘n ondersoek na die betrokke bondel drankbottels om vas te stel of daar ‘n vervaardigingsfout was.

Die organisasie het verder gevra dat die winkelgroep binne 48 uur skriftelik reageer oor die uitslag van die ondersoek en die stappe wat geneem sal word. Indien dit nie gebeur nie, behou die meisie se ma volgens die brief die reg voor om die saak na instellings soos die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, die Nasionale Verbruikerskommissie en ander toepaslike liggame te verwys.

Nuusflits het kommentaar van Mr. Price gevra.

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief